Monday 9 June 2014

Kussing met hekelwerk




Kussing met hekelwerk

Grootte
45 x 45 cm
...
Jy benodig
• 50 x 100 cm natuurlike linne
• 40 cm-ritssluiter
• bypassende kleur masjiengare binnekussing volgens mate
• oorskiet-vierdraadbreidraad in helder teenstellende kleure
• 3,25 mm-hekelpen

Afkortings
gls glipsteek
her herhaal
hlb halwe langbeen
ks kettingsteek
lb langbeen
pat patroon
rdte rondte
vlg volgende

So maak jy die kussingoortreksel
1 Naattoelatings van 1 cm is by alle mate ingesluit. Knip uit die natuurlike linne een stuk van 47 x 47 cm vir die voorkant van die kussingoortreksel en twee stukke van 24,5 x 47 cm elk vir die agterkant.

2 Ryg die ritssluiter vas in die middel van een 47 cm-sy van elke agterkantstuk. Stik die ritssluiter met ’n ritssluitervoetjie so na as moontlik aan die tandjies vas. Stik die naat aan weerskante van die ritssluiter toe en trek die ritssluiter oop.

3 Sit die agterkantstuk op die voorkantstuk met die regte kante teen mekaar. Knip die agterkantdeel kleiner om op die voorkantdeel te pas, indien nodig. Stik dit aan die buiterand toe. Knip die naattoelatings by die hoeke skuins af en dop die oortreksel deur die oop ritssluiter na die regte kant om. Hiermee is die oortreksel voltooi.

Gehekelde motiewe

Blommotiewe
Met 3,25 mm-hekelpen en eerste kleur breidraad, hekel 4 ks, las met ’n gls om ’n ring te vorm.

1e rdte: hekel 10 hlb in die ring. Knip eerste kleur af en las tweede kleur breidraad aan.

2e rdte: hekel 2 ks, hlb in dieselfde spasie, hekel 2 hlb in elke hlb in die ring. Daar moet 20 hlb wees.

3e rdte: steek die pen slegs in die voorste lus van die steke, * 3 ks, 1 lb in onderkant van 3 ks, 2 lb in elk van vlg 2 ste, (1 lb, 3 ks, gls) in vlg hlb, gls in vlg hlb; her van * nog 4 keer. Trek breidraad deur laaste st om af te heg en knip draad af. Daar is vyf blomblare.
Gaan so voort om nog blomme in verskillende kleure te maak.

Ronde motiewe
Met 3,25 mm-hekelpen en eerste kleur breidraad, hekel 4 ks , las met ’n gls om ’n ring te vorm.

1e rdte: hekel 10 hlb in die ring. Knip eerste kleur af en las tweede kleur breidraad aan.

2e rdte: hekel 20 hlb in die ring.

3e rdte: hekel 40 hlb in die ring. Knip tweede kleur af en las derde kleur aan.

4e rdte: hekel 80 hlb in die ring. Dit stel die volgorde van die patroon vas. Jy kan die ronde motiewe so groot maak soos jy wil en die kleure na willekeur verander aan die einde van ’n rdte.

So voltooi jy die kussingoortreksel
Bedek die voorkant van die kussingoortreksel met die ronde en blommotiewe totdat jy tevrede is met die ontwerp. Werk die motiewe netjies met die hand op die linne vas. Die blommotiewe kan die ronde motiewe oorvleuel soos op die foto. Steek ’n binnekussing in die kussingoortreksel en trek die ritssluiter toe.

(Idees Tydskrif)