Friday, 27 June 2014

Broodpoeding





Broodpoeding
deur Barbara Joubert
Gewoonlik word rosyne in die broodpoeding gesit, maar my ma was glad nie lief vir rosyne nie. Dié poeding het in elk geval nie rosyne nodig nie.
◾1 gesnyde witbrood
◾Genoeg botter & appelkooskonfyt om die brood mee te smeer  
◾6 eiers, geskei  
◾12 eetlepels (180 ml) strooisuiker (my ma het my geleer: vir 1 eierwit – 2 eetlepels suiker)    
◾4 koppies (1 liter) melk
Gebruik ’n diep oondbak wat ’n hele brood se toebroodjies sal vat. Smeer die toebroodjies met die botter en appelkooskonfyt. Hou heel. Pak die bak met die toebroodjies styf teen mekaar en selfs nog ’n tweede laag. Klits die eiergele en melk saam en gooi oor die brood. Bak in warm oond teen 180°C vir ongeveer ’n halfuur. Klits intussen die eierwitte styf en voeg die suiker lepel vir lepel by. Jy maak nou ’n lekker stywe meringue. Skep die meringue bo-op die broodmengsel en bak verder tot die meringue ’n mooi bruin kleur het. (Dit neem so ongeveer 10 – 12 minute.)