Wednesday 14 May 2014

Ontbyt-jaffel





Ontbyt-jaffel

(Genoeg vir 4)
Braaityd: 5 – 10 minute
  • 15 g (15 ml) botter
  • 125 g strepiespek (streaky)
  • 8 snye witbrood
  • 45 g (50 ml) sagte botter
  • 100 g cheddarkaas, gerasper
  • 4 eiers
Smelt die 15 g botter in ’n pan. Voeg spek by en braai tot bros. Dreineer op kombuispapier. Smeer elke sny brood aan een kant met sagte botter. Plaas ’n sny brood met gesmeerde kant na onder in ’n jaffelpan. Die botter sal keer dat die brood in die pan vassit. Plaas gerasperde kaas in die middel en druk effens plat. Sit van die spek op en breek ’n eier versigtig oop bo-op. Maak seker dis in die middel. Sprinkel nog kaas bo-op en plaas die tweede sny brood met die gesmeerde kant na bo daarop. Maak pan toe en druk vas. Sny oortollige brood af. Maak ’n plaat op jou stoof warm en plaas die jaffelpan direk daarop.
Braai sowat 3 minute en draai om. Braai nog 3 minute en maak dan versigtig oop om te sien of dit bros en goudbruin word. Maak toe en braai verder – terwyl jy die pan omdraai – tot bros en goudbruin. Keer versigtig uit en hou warm eenkant. Herhaal met res van bestanddele.