Thursday 15 May 2014

Geurige Tamatiebredie



Geurige Tamatiebredie
BESTANDDELE
30 ml kookolie
3 uie, geskil en in skyfies gesny...
3 knoffelhuisies, geskil en gekap
1 kg skaapribbetjie, ribbetjies losgesny en middeldeur gesny
6 groot, ryp tamaties, geskil en grofweg in kleiner stukkies gesny

1 x 50 g-sakkie tamatiepuree
10 ml sout
10 ml suiker
10 ml paprika
3 aartappels, geskil en in kwarte gesny
1-2 eetlepels koekmeel, gemeng met 125 ml water, indien nodig
basmatirys om voor te sit
AANWYSINGS
1 Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie sag.
2 Voeg die knoffel en vleis by en braai bruin.
3 Voeg die res van die bestanddele, behalwe die aartappels, by en roer tot gemeng.
4 Laat die bredie vir 1 uur lank oor matige hitte prut. Dis gewoonlik nie nodig om water by te gooi nie, omdat die tamaties se sous genoeg vloeistof bevat, maar hou dit dop om seker te maak die vloeistof is genoeg.
5 Voeg die aartappels by en kook vir nog ’n uur of tot die ribbetjie doeksag is.
6 As die bredie teen die einde te waterig is, kan jy die koekmeel-en-water-mengsel bietjies-bietjies bygooi. Laat prut tot dit genoeg verdik het na jou smaak.
7 Sit voor met basmatirys.
WENK
Só skil jy tamaties maklik: Gebruik ’n skerp mes en sny ’n kruisie bo-op elke tamatie. Gooi kookwater oor die tamaties en laat staan dit so vyf minute. Giet die water af en trek of vryf die skilletjies af.
Party mense hou daarvan om lamsnek te gebruik vir tama­tie­bredie, ander verkies skaapribbetjie of ontbeende skaapboud in blokkies gesny. Jy kan regtig enige snit gebruik,” vertel Rita van Dyk in haar nuwe boek, Boendoe-kos vir die Afrika-bos. “Dis lekker as die vleis ’n klein bietjie vet aanhet.”