Thursday 6 March 2014

Vanieljekoekies




Vanieljekoekies
Maak jou blikke vol – dis groot pret om koekies te bak én te versier. Dis ook ’n oulike geskenk as jy ’n glasfles of blikkie vol koekies maak vir iemand spesiaals.  

Maak: sowat 30 koekies, afhangend van grootte 
Bereidingstyd: 1 uur, plus verkoeltyd 
Baktyd: 12−15 minute 
Oondtemperatuur: 180°C 

125 g (220 ml) versiersuiker, gesif
2,5 ml vanieljegeursel
1 eiergeel
250 g botter (teen kamertemperatuur)
375 g (780 ml) koekmeel



1 Gooi die versiersuiker, vanieljegeursel, eiergeel en botter in ’n mengbak en klits teen lae spoed tot gemeng (jy kan ook ’n houtlepel gebruik). Voeg die koekmeel by en meng tot ’n ferm deeg. Vorm die deeg in ’n plat sirkel, draai dit in kleefplastiek toe en hou dit vir sowat 30 minute tot 1 uur in die yskas. As die deeg te sag is, sukkel dit om uit te rol.

2 Voorverhit die oond. Haal die deeg uit die yskas en knie dit met die hand om dit sag en hanteerbaar te kry. Rol die deeg 5 mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Gebruik verskillende koekiedrukkers en druk vormpies uit die deeg. Pak die koekies ’n entjie uitmekaar op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Bak die koekies vir 12-15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

Variasies

Grondboontjiekoekies
: Vervang 30 g botter in die resep met gladde grondboontjiebotter.

Sjokoladekoekies: Vervang 15 g meel met kakao.
Speserykoekies: voeg 5 ml gemengde speserye by die deeg in plaas van die vanieljegeursel

Wil jy die koekies versier?

Voor jy die koekies bak: Sodra die koekies uitgerol, uitgesny en op die bakplate gepak is, kan jy ’n paar sjokoladesplinters, grofgekapte grondboontjies of eetbare versiersels oorstrooi.
Indien jy nie lus het om die deeg uit te rol en vorms met koekiedrukkers uit te sny nie, kan jy deegballetjies rol en dit plat druk met ‘n vurk
Plak twee gaar koekies aanmekaar met gesmelte sjokolade vir ekstra lekker.

GLANSVERSIERSEL

425 g (750 ml) versiersuiker, gesif
1 eierwit
sap van ’n halwe suurlemoen
eetbare silwer balletjies

Gebruik ’n houtlepel en meng die helfte van die versiersuiker met die eierwit en suurlemoensap tot romerig. Roer die orige versiersuiker geleidelik by en klop tot glad. Gebruik ’n spuitsak en versier die koekies. Rond die koekies af met eetbare silwer balletjies voordat die versiersel hard word.

(Pasella)