Monday 3 February 2014

Mynhardt en Tiaan se Gevledge Vark, plaasbrood en braaisous




Gevlegde Vark
Voorbereiding: 20 minute en +- 30 minute se braai

Vra jou slagter vir lekker dik gesnyde varkliesrepies - genoeg vir twee vir elke gas. Sny die stukkie vleis van bo na onder twee keer sodat jy drie stringe het met die bokant aan mekaar. Vleg dit nou soos 'n koeksister en steek aan die onder kante vas met 'n tandestokkie. Marineer in Mal Miem se sous oornag vir die beste resultate. Braai stadig oor die vuur en sit voor met gevlegde plaasbrood en botter.

Gevlegde plaasbrood
Hierdie is 'n basiese broodresep wat baie maklik is om te maak en lekker vinnig rys. Die broodjie kan aangepas word met lekker byvoegings soos olywe, songedroogde tamaties en vars kruie vir 'n interssante kinkel.

Voorbereiding: Twee ure vir maak en rys en vleg

• 500g broodmeel
• 5ml sout
• 5ml suiker
• 1 pakkie droë gis
• 325ml louwarm water
• Bietjie olyfolie

Voeg droë bestanddele bymekaar en sit in menger. Voeg water en olie by en knie tot 'n sagte deeg vorm; laat rys tot dubbel in volume en knie af. Druk uit op 'n toonbank wat met meel bestrooi is en sny reghoeke uit in die grootte van 'n bankkaart. Sny 2 mote in en vleg soos 'n koeksister - nou is dit reg vir die kole! Braai die broodjies op 'n matige vuur en wees versigtig dat hulle nie skroei nie maar heeltemal gaar is in die middel; 8 tot 10 minute aan 'n kant.

Hierdie brood kan jy ook in die oond bak as jy nie veilig voel met die roosterkoek uitstappie nie.

Mal Miem se Braaisous
Mynhardt vertel: "Een van my Ouma se familiefoto's met drie sussies op het twee name in 'n dun handskrif by gehad, die een was Bet Kol en die ander Mal Miem. Die twee het my vir jare lank gefasineer en toe ek die braaisousie aan mekaar sit in my vorige resturant, Bar Bar Black Sheepin Riebeek Kasteel waar omtrent als 'n snaakse naam gehad het, roep ons toe vir Mal Miem in die lewe. Hier is 'n lekker klomp mal bestandele in en dit is so eenvoudig om te maak en altyd 'n treffer met enige vleis. Dit laat my nou wonder of ek dit eintlik moet deel...?"

Voorbereiding: 15 minute

• 5 naeltjies fyn geslaan
• 10 lourier blare
• 1 eetlepel vinkelsade
• 1 teelepel komynsade
• 2 eetlepels geskroeide koljander grof fyn gekap
• 'n Paar knippies sout en growwe swart peper
• 2 eetlepels gerookte paprika
• 1 teelepel droë rissievlokkies
• 5 huisies knoffel fyn gekap
• Gerasperde skil van twee groot lemoene
• Sap van drie groot lemoene
• Hand vol gekapte vars koljander
• 10 takkies gekapte vars tiemie
• 5 takkies gekapte vars roosmaryn
• 125ml heuning
• 125 ml balsamiese asyn
• 125 ml soya sous
• 750ml goeie kwaliteit tamatie sous
• 1 blikkie tamatie pasta
• 125ml olyfolie
• 125ml koud geparsde sonnemblomolie

Maak seker al die vars kruie is lekker fyn gekap. Meng al die bestandele saam. Die sous kan baie suksesvol vir tot 'n maand in die yskas hou en maak wonderlike geskenke. Vir ons braai het ons herwinde olyfolie bottels gebruik met kurkproppe wat baie goed werk en die sous lank laat hou.