Sunday, 16 February 2014
Mynhardt en Tiaan se Gerookde forel met krummels en kwartel eiers
Gerookde forel met krummels en kwartel eiers Hierdie resep is heerlik en eintlik baie maklik om aan mekaar te sit. Die smake is uniek en die kwartel eiers maak dit heel luuks!
• 1 hele forel, skubbe af en binnegoed uit
• 1 groot wok of roker met saagsels
• 250ml koekmeel
• 125ml botter
• 1 eetlepel groentee blare, fyngemaak
• Fyn gerasperde parmesaan kaas
• 18 kwartel eiers
• 125ml asyn
Maak eerste die kors deur die botter in die meel in te vryf en dan die tee asook die kaas deur dit te meng. Sit dit soos ’n groot koekie plat op ’n bakplaat wat gesmeer is en bak in ’n voorverhitte oond vir sowat 20 minute of tot gaar. Onthou die deeg sal nog bros raak soos dit afkoel. Laat dit afkoel as dit uit die oond kom en kap dit in krummels as dit afgekoel het. Hou eenkant.
Om die vis te rook is baie maklik - sit die saagsels aan die onderkant van die roker of wok en die vis bo-oor dit op ’n rakkie. Skakel die hitte aan en rook die vis vir sowat 20 minute of tot die vis vlok. Nou weet jy hy is gaar. Laat effe afkoel.
Sit solank ’n potjie met kookwater op die stoof wat stadig kook. Breek nou die kwartel eiers in ’n klein bakkie en gooi die asyn bo oor dit. Laat die eiers bietjie staan sodat die asyn sy werk kan doen en dompel dan die eiers in die kookwater. Roer liggies en gebruik ’n gaatjieslepel om die eiertjies na sowat 3 minute uit die water te skep in yskou water sodat die proses kan stop.
Bedien die drie komponente saam in ’n klein bakkie.