Wednesday 29 January 2014

Kaasbord-Kunsies



Kaasbord-Kunsies

Jy het nie tien verskillende soorte kaas nodig om 'n indrukwekkende kaasbord saam te stel nie. Drie is heeltemal genoeg. Kies 'n klein verskeidenheid goeie kaas soos 'n ryp Brie, Camembert of stuk bokmelkkaas, 'n wig romerige bloukaas en 'n goeie beleë cheddar. Sit andersins net een wig goeie kaas voor met beskuitjies, vrugte en neute.

Kies die kaas
• Kies minstens drie soorte kaas en maak seker dat dié kase verskil in tekstuur, kleur, smaak en geur.
• Laat 50 g kaas per persoon toe as die kaasbord ná ete voorgesit word en 100 g tot 150 g per persoon as dit die hoofmaal is.
• Hou jou gaste in gedagte. As jy vegetariërs, verslankers of kinders aan tafel het, sluit 'n kaas in wat hulle sal geniet — soos 'n lae-vet-bokmelkkaas met lae-vet-beskuitjies of gouda, wat kinders graag eet.

Die kaasbord

• Sorg dat daar genoeg plek op die kaasbord is sodat kaas gemaklik gesny kan word.
• Dis 'n goeie reël om met die matige smake te begin en laastens die sterker kase op die bord te eet.
• Probeer om kaas ook met vars vrugte soos pere, mangos of druiwe voor te sit.
• As die kaasbord 'n hoofmaal is, sit dit voor met 'n verskeidenheid brode, asook soet en sout beskuitjies.

Kaas sluit 'n ete op 'n hoë noot af. Met 2004 se SA Kaasfees om die draai, gee ons 'n paar wenke vir smaaklike kaasborde. Maar die geheim is om dit 'n persoonlike aanslag te gee.

Sover onthaal met kaas strek, geld twee goue reëls:
 1. Hou dit eenvoudig.
 2. sit kaas in sy onverwerkte vorm altyd teen kamertemperatuur voor.
'n Kaasbord kan voor, tydens of ná ete geniet word. Hier is 'n paar idees:
Ná ete op koue daebr> Sit 'n wig bloukaas en 'n stuk beleë cheddar voor met 'n sagte kaas soos brie of camembert en vingers geroosterde rogbrood of melbaroosterbrood. Saam met die kaas kan vrugte (gestoof in likeur) of neute in heuning geniet word.

Someraande
 'n Rolletjie roomkaas of chevin met kruie, neute of sade, vars vrugte, soos druiwe, vye, ryp pere of pruime. (Dis ook 'n goeie opsie vir 'n lae-vet-kaasbord.)
 Sit hierby 'n paar stukke gemarineerde of gerookte mozzarella of 'n stuk goudakaas en miskien 'n paar volgraanbeskuitjies voor.

Vir die manne
 Bloukaas, cheddar, beskuitjies, dun stukkies droëwors en 'n paar flenters biltong met 'n verskeidenheid geroosterde neute en droëvrugte.

As nagereg
 Posjeer pere in 'n vanielje- of wynstroop of rooster vye met strooisuiker of heuning in die oond. Sit dit yskoud voor met 'n wig romerige bloukaas of ryp brie of camembert en tuisgemaakte neutebiscotti.

Kaas en wyn
 Dis feitlik onmoontlik om net een wyn te kies om saam met 'n kaasbord te geniet wat uit 'n verskeidenheid kase bestaan. Wyn se hoë suurinhoud en kaas se hoë vet- en soutinhoud kan die ware smaak van albei belemmer as dit verkeerd saam gebruik word.

 Hier is enkele algemene riglyne:

• Harde kase (cheddar, pecorino) pas goed by droë rooiwyn (medium tot volrond) of 'n vol, ryk Chardonnay.
• 'n Soet wyn komplementeer die ligter, romerige blou kase, maar nie Deense blou of gorgonzola nie.
• Brie en Chardonnay.
• Camembert en 'n goed verouderde rooi.
• Gewürztraminer, Chiraz of soetwyn is lekker met gerookte kaas.

(Landbouweek Blad)