Thursday 5 December 2013

Kaaskoek.... 5 van die bestes..!!




Kaaskoek.... 5 van die bestes..!!

Onfeilbare suurlemoen-yskaskaaskoek 
'n Staatmaker wat ook lekker in 'n oondpan pas en dan in blokkies gesny kan word. Heerlik met enige bolaag.
Kors 
2 pakkies Tennisbeskuitjies, gekrummel
100 ml — 160 ml gesmelte botter 
'n Knippie kaneel

Vulsel 
1 blik (397 g) volroom-kondensmelk
150 ml suurlemoensap
30 ml fyngerasperde suurlemoenskil
2 houers (200 g elk) geroomde maaskaas
30 — 40 ml gelatien
60 ml koue water
100 ml kookwater
500 ml dik room
125 ml strooisuiker
B10 ml vanieljegeursel
suurlemoensmeer (lemon curd) of vrugtesous
Meng die bestanddele vir die kors goed saam. Druk dit vas op die bodem van 'n losboomkoekpan van 35 cm en verkoel tot benodig. Meng die kondensmelk en suurlemoensap en roer die maaskaas by. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 5 minute om te spons. Giet die kookwater oor en roer om te smelt. Roer by die maaskaasmengsel. Klits die room, strooisuiker en vanieljegeursel saam tot styf en vou maaskaasmengsel in. Giet in die voorbereide tertkors en verkoel vir 5 uur of oornag tot gestol. Smeer 'n lagie suurlemoensmeer of vrugtesous van jou keuse oor en sit voor. 
Lewer 1 groot kaaskoek.
.
.
Bar-one-kaaskoek 
Sit dié kaaskoek teen kamertempatuur voor om die sjokoladestukkies binne-in tot hul reg te laat kom.
Kors 
250 g sjokoladebeskuitjies, gekrummel
80 — 100 ml gesmelte botter
Vulsel 
30 ml bruinsuiker
20 g botter, ekstra
300 ml dik room
50 g melksjokolade, gekap
30 ml gelatien
60 ml koue water
500 g geroomde maaskaas
125 ml strooisuiker
180 g Bar-one, in klein stukkies gekap
Meng die krummels en botter goed saam. Druk dit op die bodem en teen die kante van 'n losboomkoekpan van 22 cm vas en verkoel tot benodig. Verhit die suiker, 20 g botter en 30 ml van die room saam tot gesmelt. In 'n ander kastrol, smelt die sjokolade en nóg 30 ml van die room. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan tot gespons. Laat staan oor kookwater tot gesmelt. Klits die maaskaas en strooisuiker saam tot glad.Klits die orige room styf en vou by die maaskaasmengsel in. Roer die gelatien en Bar-one stukkies by. Giet die helfte van die mengsel in die krummelkors. Drup die helfte van die botterkaramelsous en sjokoladesous oor. Gebruik 'n mes om 'n marmereffek te skep. Giet die res van die maaskaasmengsel bo-oor en rond af met die orige botterkaramelsous en sjokoladesous. Verkoel oornag tot gestol. 
Lewer 1 middelslag kaaskoek.

Gebakte appelkoos-kaaskoek 
Hierdie is 'n resep van Ina Paarman en is, soos elkeen van haar resepte, 'n treffer.
Kors 
300 ml gemaalde amandels
45 ml sagte botter
30 ml suiker
Appelkoossous 
125 ml droë appelkose
190 ml water
45 ml suiker
60 ml sjerrie
5 ml gerasperde lemoenskil
Vulsel 
250 ml appelkoossous (sien metode) 
2 houers geroomde maaskaas 
45 ml mielieblom
60 ml koekmeelblom
2 ml vanieljegeursel
180 ml suiker
fyngerasperde skil van ½ suurlemoen
2 ekstragroot eiers
250 ml room, geklop
125 ml dik natuurlike joghurt
Meng die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem van 'n losboompan van 24 cm vas. Verkoel tot benodig.
Vir die appelkoossous: Verhit die appelkose en water tot kookpunt en laat prut liggies tot die vrugte plomp en sag is. Voeg die suiker by en roer om op te los. Puree die mengsel tot 'n sous. Voeg die sjerrie en gerasperde skil by. Hou eenkant. Voorverhit die oond tot 180 °C. Klits die maaskaas, mielieblom, koekmeelblom, vanieljegeursel, suiker en suurlemoenskil saam. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die room en joghurt in. Skep die helfte van die mengsel uit in 'n bakkie en roer 125 ml van die appelkoossous daarby. Skep lepelsvol van die appelkoosmengsel — afgewissel met lepelsvol van die skoon mengsel — op die kors en trek 'n mes daardeur om 'n marmer-effek te verkry. Sit die pan in 'n groot oondroostersak (wat vir vleissnitte bedoel is) en knoop toe. Prik die bokant sodat stoom kan ontsnap. Plaas dit in 'n oondbak wat halfpad met water gevul is en bak vir 20 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C en bak vir 'n verdere 30 minute. Skakel die oond af en maak die oonddeur op 'n skrefie oop. Laat die koek vir 'n uur in die lou oond afkoel. Sit voor met die orige appelkoossous. 
Lewer 1 middelslag kaaskoek.
Nota 
Groot krake op gebakte kaaskoek is waarskynlik as gevolg van die volgende: 
— Die mengsel is té veel geklits. 
— Die oondtemperatuur was te hoog. 
— Die koek is te lank gebak. 
— Die koek is te vinnig afgekoel (dit moet altyd in die oond met die deur half-oop afgekoel word. Sien resep langsaan).
.

Luukse wit sjokoladekaaskoek 
'n Kaaskoek vir 'n spesiale geleentheid. Dis heerlik, maar baie ryk — 'n dun snytjie hiervan sal genoeg wees.
Kors 
1 pak koekies, gekrummel
50 g gepelde amandels, gerooser
50 g haselneute, gerooster
60 ml — 80 ml gesmelte botter
2 ml kaneel
Vulsel 
350 g wit sjokolade, gekap
120 ml room
670 g roomkaas of mascarpone
60 ml strooisuiker
4 ekstragroot eiers
15 ml vanieljegeursel
Bolaag 
450 ml suurroom
60 ml strooisuiker
15 ml haselneutlikeur of whisky
wit sjokoladekrulle en kaneel
Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem en teen die kante van 'n losboomkoekpan van 30 cm vas. Bak vir 5 — 7 minute en hou eenkant. Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C. 
Smelt die sjokolade en room oor lae hitte saam tot glad. Roer gereeld.Laat afkoel. Klits die roomkaas of mascarpone en suiker saam tot glad. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Roer die vanieljegeursel by. Giet in die tertkos en bak vir 45 — 55 minute tot die rand ferm, maar die binnekant nog sag is. Verwyder uit die oond en verhoog die oondtemperatuur weer tot 200 °C. Maak die bolaag: Klits ál die bestanddele, behalwe die sjokoladekrulle en kaneel, saam en giet oor die kaaskoek. Smeer sodat dit die koek egalig bedek. Plaas die koek terug in die oond vir 5 — 7 minute. Skakel die oond af en maak die deur op 'n skrefie oop. Laat die koek in die oond afkoel. Wanneer koud, versier met sjokoladekrulle en sprinkel 'n fyn lagie kaneel oor. 
Lewer 1 groot kaaskoek.
.
.
Gebakte brandewynkaaskoek 
Dié kaaskoek herinner aan outydse karringmelkpoeding, maar met 'n effense brandewyngeur. Baie lekker met groenvye of lemoenkonserf en 'n koppie koffie.
Kors 
1 pakkie (200 g) karamel- of toffiekoekies, gekrummel
80 ml gesmelte botter
2 ml kaneel
Vulsel 
2 houers geroomde maaskaas
125 ml suurroom
125 ml strooisuiker
2 ekstragroot eiers
30 ml mielieblom
45 ml koekmeelblom
15 ml suurlemoensap
45 — 60 ml brandewyn
Voorverhit die oond tot 160 °C. Meng die bestanddele vir die kors saam en druk op die boom van 'n pan van 22 cm vas. Verkoel tot benodig. Klits die maaskaas, suurroom en strooisuiker saam tot goed gemeng. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Meng die mielieblom en koekmeelblom met die suurlemoensap en brandewyn tot 'n pasta en klits by die maaskaasmengsel. Giet in die voorbereide kors en bak vir 30 — 45 minute tot die buiterande ferm en goudbruin, maar die binnekant steeds sag is. Skakel die oond af, maak die deur effens oop en laat die koek in die oond afkoel. Sit voor teen kamertemperatuur. 
Lewer 1 middelslag koek.