Wednesday 11 December 2013

Amandelbiscotti met bosbessies





Amandelbiscotti met bosbessies

As jy nie droë bosbessies in die hande kan kry nie, gebruik korente of sultanas vir hierdie biscotti.

125 ml droë bosbessies ("cranberries")
125 ml kookwater
750 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
1 ml sout

60 ml sagte botter
250 ml suiker
3 eiers, teen kamertemperatuur
10 ml vanieljegeursel
1 pakkie amandels, grof gekap

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n groot bakplaat met gesmeerde bakpapier uit. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en hou eenkant. 

Meng die droë bosbessies en kookwater en laat staan vir 15 minute om uit te swel. Dreineer goed en hou eenkant.
Verroom die botter en suiker goed tot lig en romerig en klits die eiers een vir een by. Klits goed ná elke byvoeging en klits laaste die vanieljegeursel by.
Voeg die amandels, uitgeswelde bosbessies en droë bestanddele by en maak aan tot 'n deeg. Verdeel die deeg in drie en vorm elke deel in 'n lang "wors". Pak 'n entjie uitmekaar op die bakplaat en druk elkeen met die hand effens platter. Bak vir ongeveer 20- 25 minute tot strooikleurig.
Laat afkoel tot louwarm en verlaag die oondtemperatuur tot 100 °C. Sny elke stuk deeg in snytjies van 5 mm dik en bak op die bakplate. Droog uit, soos beskuit, en laat heeltemal afkoel voor dit lugdig verpak word.