Thursday 31 October 2013

POTGEBRAAIDE BEESVLEIS

POTGEBRAAIDE BEESVLEIS IN DIE PRUTPOT:

Bestanddele:

 1.5 kg stuk beesvleis (geskik vir potbraai) (vet verwyder),
'n bietjie rooiwyn,
 'n 400g blik tamatiestukke - gebruik die beste kwaliteit wat jy kan kry;
3 knoffelhuisies, fyngesny;
'n bossie vars kruie (roosmaryn, tiemie of basiliekruid is lekker),
 knippie suiker,
 sout en varsgemaalde peper na smaak.

Vinnige metode:
Smeer die pot met 'n bietjie olyfolie (dit maak die skoonmaak makliker). Plaas die knoffel, kruie en suiker in die pot. Sit die stuk vleis bo-op en giet die wyn en tamatie bo-oor.
(As jy meer tyd het: Verbruin eers die vleis aan alle kante in 'n bietjie olyfolie in 'n swaarbodem-kastrol op die stoof. Sit die vleis in die prutpot. Giet die wyn in die kastrol en laat opkook. Roer om al die lekker bruin aanpaksels op die bodem op te los. Giet die warm wyn oor die vleis.)
Kook op "LOW" vir sowat 8 tot 10 uur; draai die vleis een of twee keer om gedurende die kookproses. 'n Halfuur voor die vleis bedien word, verwyder dit, sny in dun skywe en plaas terug in die sous. Proe die sous en voeg sout en peper na smaak by. Bedien met pasta, rys, kapokaartappels of brood.
Hierdie is 'n goeie basiese resep. Varieer dit deur verskillende kruie te gebruik. Groente kan ook bygevoeg word - plaas dit op die bodem van die pot saam met die kruie en knoffel. Omdat die temperatuur so laag is, bly die vitamines in die groente behoue en die groente kook nie te pap nie.
Die groot geheim van prutpot-kookkuns is lekker sterk geurmiddels, anders is alles geneig om waterig en smaakloos te wees.