Friday 13 September 2013

Trooskos - Melkkkos




MELKSNYSELS “BOERERESEP”

Bron: Voortrekkerresepte. herdruk 1949
 2 koppies Meelblom
1 Eier
‘n Weinig sout
Melk om ‘n stywe deeg te vorm
 KLits eier op en meng met meelblom, voeg melk by om ‘n stywe deeg te vorm en knie. Rol dun uit, strooi meel om te voorkom dat deeg aanmekaar vassit, rol deeg nou op, kerf soos die ou mense tabak gekerf het.

 FRUMMEL-MELKKOS
 Ma het melksnysels en frummelmelkkos uit haar kop uit gemaak. Ek sal volgende keer gaan dophou hoe sy dit maak en afskryf. Tot dan loer ek in by die versamelstuk Dine van Zyl se Groot Boerekos-boek.  
Dine se belofte dat dit 15 minute behoort te duur om dit van begin tot einde te maak. Ek moes eers kaneelsuiker aanmaak, langlewemelk in die spens gaan haal, so as dit my bietjie langer geneem het: Dine, dit was nie jou skuld nie!
 (Ek het die resep halveer vir my lee-nes gesin, maar hierdie is Dine se afmetings)
 2 l melk
250 ml meelblom
2,5 ml sout
15 ml sagte botter (BOTTER, nie margarien nie)
 Kook die melk (hou oog daaroor dat dit nie oorkook nie) Sif die meel en sout saam. Vryf sagte botter met vingerpunte by die meel in tot dit frummels maak. Dit kan in in die voedselverwerker gedoen word (ek hou te veel van hierdie lekker stap om dit vir ‘n masjien te gee om te doen.) Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk en roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat sag prut vir sowat 8 minute.
Bedien met kaneelsuiker.

 MELKSNYSELS of te wel Slinger-om-die-smoel
(Dine se resep)
 3 eiers
375 ml meelblom
5 ml sout
Water om mee aan te maak
1,25 l melk
2 stukke pypkaneel
Kaneelsuiker vir oorstrooi
Klont botter
 Klits eiers. Sif meelblom en sout by en meng goed. Voeg NET GENOEG water by om ‘n stywe deeg te vorm. Knie tot elasties. Strooi meelblom oor ‘n deegplank en rol die deeg dun uit om ‘n reghoek te vorm. Strooi meel oor die uitgerolde deeg. Rol die deeg van die een kant af op en sny met skerp mes in dun repies. Strooi meel oor die snysels.
 Verhit die melk saam met 2 stukke pypkaneel. Sodra dit begin kook, gooi die snysels geleidelik daarby en roer met ‘n vurk sodat die snysels nie aanmekaar klou nie. Werk liggies om ‘n pappery te voorkom. Laat stadig kook vir 20 minute. Skep in groot sopborde en bedien met kaneelsuiker.
Klont botter as jy hou van overdaad (of troos, reken ek).