Wednesday 18 September 2013

Ryk hoender-en-sampioenpastei




Ryk hoender-en-sampioenpastei
As jy min tyd het, koop sommer ’n geroosterde winkelhoender – dan neem dit minute om aanmekaar te slaan.

Vulsel
1 gaar hoender (gerooster of gekook)
1/2 hoenderaftreksel-blokkie
60 ml botter
250 g sampioene van jou keuse, gesnipper
30 ml koekmeel
500 ml warm melk
30 ml Dijon-mosterd
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1/2 rol reg-om-te-gebruik skilferkorsdeeg
1 eier, geklits

Ontbeen en vlok die hoender en hou eenkant. Druk die halwe aftrekselblokkie met ’n vurk fyn en verhit saam met die botter in ’n pan. Braai die sampioene in die bottermengsel tot gaar. Sprinkel die meel oor en laat borrel. Voeg die melk bietjie vir bietjie by en roer, terwyl die sous prut, tot ’n verdikte, gaar sous. Voeg die mosterd en gevlokte hoender by en skep in ’n pasteibak. Laat die vulsel afkoel.

Voorverhit die oond tot 200°C. Rol die deeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en sny ’n stuk wat groot genoeg is om die vulsel te bedek, of druk sirkels uit die deeg met ’n skondrukker, soos op die foto.

Sodra die vulsel koud genoeg is, sit die deeg bo-oor. As jy sirkels deeg gebruik, pak op die vulsel, sodat dit effens oorvleuel, tot die vulsel heeltemal bedek is. Verf met geklitste eier en bak vir 30 minute, tot goudbruin en deurgaar.