Wednesday 18 September 2013

LEMOENSTUKKONFYT




Naomi le Roux
MY LEMOENSTUKKONFYT
Gebruik pas ryp geplukte lemoene en skil baie dun af of rasper die skil af… maar dit moet nog oranjekleurig wees.
Vryf die lemoene met growwe sout in en sit dit in ’n plastiek/emalje skottel vir 30 minute. spoel die lemoene onder lopende koue water af.
Bedek dit met sterk warm water ( nie kokende water) en sit ’n bord op die lemoene om dit onder die water te hou. Laat die lemoene week oornag- of totdat dit afgekoel het in die water . (Ek het net gewag tot die water koud is.)
Dreineer en halveer die lemoene en weeg die halwes af. Bedek dit met vars water en kook dit met die deksel tot dit so sag is dat ‘n vuurhoudjie maklik deur die skil kan steek. Moenie pap kook nie en skep die lemoenhalwes versigtig met ‘n gaatjieslepel uit en hou die lemoenwater vir die stroop...

Stroop:
Gebruik vir elke 1 kg lemoenhalwes 2.5 liter lemoenwater. (Vul die water aan met koue water as dit te min is), 1.25 kg witsuiker en 20 ml suurlemoensap.
Verhit die water en suiker stadig tot kookpunt en roer aan die begin om die suiker op te los.. syg nou die stroop deur ’n moeseliendoek- of watte… (ek het ’n nuwe kombuisvadoek gebruik. Het dit net eers gesteriliseer in kookwater) Bring weer die stroop tot kookpunt en sit die lemoenhalwes een-een in die stroop sodat die stroop nie ophou kook nie.
Kook nou die konfyd tot die stroop dik is en die lemoenstukke deurgekonfyt is.

NS: Ek het my lemoene in kwarte gesny sodat dit by my bottels se bekke kon ingaan.