Tuesday 10 September 2013

Mexikaanse maalvleis





Mexikaanse maalvleis

'n Maalvleisresep met vele gebruike - sit dit voor op pasta, rys of fynaartappel, rol dit in pannekoek, tortillas of roti's toe, vul aartappels of maak natchos daarmee of gebruik dit in vetkoek. Dis heerlik, geurig en maklik om te maak.

15 ml olie
500 g beesmaalvleis
125 g spekvleis, gesnipper
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
15 ml fyn komyn
15 ml droë brandrissies, fyn gedruk
5 ml droë oregano
5 ml sout

3 ml rooipeper
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
250 ml water
5 ml suiker
1 blik (410 g) gekapte tamaties
1 ui, grof gekap
1 rooi soetrissie, grof gekap
1 blik (410 g) rooi nierboontjies, gedreineer en afgespoel
Handvol vars pietersielie, gekap
375 ml ligte beesvleisaftreksel

Verhit die olie in 'n kastrol. Voeg die maalvleis by en braai tot goudbruin. Voeg die spek en knoffel by en braai tot die spek gaar is. Voeg die speserye, kruie en geurmiddels by en braai vir 2 minute. Voeg die tamatiepasta, water, suiker, gekapte tamaties, ui en soetrissie by en verhit tot kookpunt. Prut vir 20 minute sonder die deksel. Voeg die bone, pietersielie en aftreksel by en prut vir 'n verdere 5-10 minute tot dik en geurig. Op die foto is die maalvleismengsel saam met blaarslaai, avokado, suurroom en gerasperde kaas in tortillas gerol. Genoeg vir ses mense.