Wednesday 14 August 2013

Willie se makataankonfyt



Willie se makataankonfyt

1. Sny een groot makataan in skywe van 5 cm en verwyder die groen skil en die binneste sagte gedeelte met die pitte.

2. Prik dan die heel waatlemoenskywe met ’n vurk (as jy nou nie Pa se makataanprikker het nie) en sny dit daarna in stukke.

3. Plaas in ’n kalkoplossing (25 ml gebluste kalk per 5 liter water) en week vir twee dae. Roer gereeld terwyl die stukke daarin week.


4. Spoel ná twee dae die stukke deeglik af en week vir 2 uur in skoon water voordat jy dit begin kook.

5. Verhit water in ’n groot kastrol tot by kookpunt en gooi ’n bietjie sout by.

6. Plaas die stukke een vir een in die kokende water en maak seker dat die water nie ophou kook nie, anders word die stukke pap. Kook tot die stukke helder is en jy maklik ’n tandestokkie in hulle kan steek.

Stroop

1. Weeg die vrugte en vir elke 1 kg waatlemoenstukke gebruik jy 2,5 liter water en 1,5 kg suiker wat daarin opgelos is.

2. Verhit die water en gooi die suiker stadig by terwyl jy aanhoudend roer totdat al die suiker opgelos is. Dit is belangrik dat die water nie moet kook voordat al die suiker opgelos is nie.

3. Gooi 25 ml suurlemoensap en 4 stukke gedroogde gemmer by die stroop en kook 10 minute lank.

4. Plaas die waatlemoenstukke geleidelik daarin en kook totdat die stroop begin dik en die stukke deurskynend word.

5. Pak die konfytstukke in skoon flesse, gooi die warm stroop oor en verseël dadelik.

Afgesien van die vrugtekoeke waarin ek van dié lekkernye gebruik, is dit ook ongelooflik lekker as jy hulle in klapper rol en net so eet as ’n soetigheid. Die meer moderne manier om dit te eet, is om ’n soutkoekie te vat, dun snytjies makataanstukke daarop te sit met ’n flentertjie bloukaas bo-op en ’n gerookte mossel om dit mee af te rond. Die kombinasie klink dalk vreemd, maar probeer dit gerus. Dit is lékker! En iets wat jy vinnig kan maak as jy onverwags gaste kry.


Annatjie K Zia

Wil net noem as jy nie gebluste kalk het nie is koeksoda ook reg (50ml per 5liter water) moes dit gebruik toe ek in Mosambiek gebly het want hulle kennie van gebluste kalk nie

Marie DeWet

Ek het in Port st Johns gebly en dieselfde konfyt gemaak van groen papaja.

Annatjie K Zia

waterlemoen werk ook, gebruik die wit gedeelte, skil waterlemoen baie dun af net sodat jy meer wit kan kry