Friday 30 August 2013

Pannekoek-pakkies met melktertvulsel en lemoensous




Pannekoek-pakkies met melktertvulsel en lemoensous
(8 – 10 porsies)

Pannekoek
•380 ml volgraanmeel
•10 ml bakpoeier
•5 ml sout
•2 eiers
•10 ml kanola-olie
•10 ml bruin moutasyn
•500 ml vetvrye melk
•water, indien nodig

Melktertvulsel
•75 ml koekmeel
•75 ml suikerplaasvervanger
•500 ml vetvrye melk
•1 kaneelstokkie
•2 eiergele
•1 ml sout
•25 ml laevet-margarien
•5 ml vanieljegeursel

Lemoensous
•75 ml suikerplaasvervanger
•500 ml vars lemoensap
•skil van 1 lemoen, fyngerasper
•25 ml botter

Pannekoek
Meng die meel, bakpoeier en sout. Klits die eiers, olie, asyn en melk saam. Meng met die meelmengsel. Laat staan die pannekoekbeslag 30 minute. Verdun met water as dit te dik is. Verhit ’n pannekoekpannetjie en spuit met kleefwerende kossproei. Bak pannekoeke tot gaar en al die beslag op is. Hou eenkant.

Melktertvulsel
Meng meel met 15 ml van die suikerplaasvervanger en 50 ml koue melk tot ’n pasta. Verhit res van melk en suikerplaasvervanger saam met kaneelstokkie tot warm. Verwyder kaneelstokkie net voor melk wil begin kook. Roer die meelpasta by warm melk. Roer vinnig tot mengsel begin verdik. Klits eiergele en sout vinnig by en meng tot glad en dik. Verwyder van hitte en roer margarien en geursel by.

Lemoensous
Verhit suikerplaasvervanger, lemoensap- en skil. Bring tot kookpunt en kook sowat 30 minute tot die sous met die helfte verminder het. Haal af van hitte. Voeg botter klontjie vir klontjie by.

Samestelling
Skep lepelsvol van melktertvulsel in pannekoeke. Rol op en sny elke pannekoek in 3. Pak in ’n opdienbak en gooi sous oor. Sit warm voor.