Wednesday 7 August 2013

LEMOENTERT




LEMOENTERT

Pasteikors:
120 g botter
180 g koekmeel
sout
sowat 40 ml koue water

Frangipane:
125 g botter
150 g strooisuiker
125 g gemaalde amandelvlokkies
2 eiers, liggeklop
15 ml meel

Lemoenskyfies:
2 groot lemoene met mooi skille
250 g suiker
375 ml water

1. Tertkors: Vryf die botter in die gesifte meelblom en sout. Bind met die water. Maak 'n bal van die deeg. Bedek met kleefplastiek en laat rus in 'n koel plek vir 30 minute. Rol die deeg uit en vul die tertbak daarmee uit. Plaas ekstra deeg om die rande om dit stewiger te maak. Prik die bodem en verkoel in die yskas tot die kors ferm genoeg is om frangipane oor te smeer.

2. Frangipane: Room die botter en suiker tot lig. Roer die amandels by, dan die eiers en laaste die meel. Smeer die mengsel oor die verkoelde tertkors. Smeer oor die hele bodem en kante. Plaas 'n soliede bakplaat op die middelste rak van die oond en voorverhit die oond tot 180C. Bak die kors met die frangipane 20 tot 25 minute. Maak oond ná 15 minute oop om te kyk of die bodem opblaas. Prik dit op 'n paar plekke met 'n bakpen om dit te laat afblaas.

3. Lemoenskywe: Los die suiker in die water op en kook vir 5 minute. Sny die lemoene in dun skywe (skil en al). Verwyder pitte. Kook in die stroop tot sag genoeg om die skil met 'n tandestokkie te deurboor en die stroop dik geword het. Plaas eenkant om af te koel. As die tertkors ook afgekoel het, sny die lemoenskywe in die helfte en pak in sirkels op die tert. Glasuur met die stroop.