Thursday 1 August 2013

Lemmetjie-en-klapper-rolkoek




Lemmetjie-en-klapper-rolkoek

Baktyd: 10-12 minute
Oondtemperatuur: 190° C

Vulsel

• 100 ml klapperroom
• 300 g witsjokolade, in stukkies gebreek
• 15-20 ml fyngerasperde lemmetjieskil

Koek

• 3 groot eiers, geskei
• 15 ml lemmetjiesap
• 80 ml (70 g) strooisuiker
• 185 ml (100 g) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• versiersuiker en witsjokoladekrulle vir versiering

Stroop

• 50 ml lemmetjiesap
• 50 ml (45 g) strooisuiker

1 Vulsel Verhit die klapperroom tot byna kookpunt. Haal van die plaat af en roer die sjokolade by tot gesmelt. Roer die lemmetjieskil by en klop met ’n draadklitser tot glad en blink. Laat oornag in die yskas staan.

2 Koek Klits die eiergele en lemmetjiesap saam met 30 ml water. Hou 15 ml strooisuiker eenkant en voeg die res by die eiergeelmengsel. Klop tot dik en romerig.

3 Sif die meel, bakpoeier en ’n knippie sout saam en vou dit by die eiergeel-mengsel in. Klits die eierwitte saam met die res van die strooisuiker tot styf. Vou dit by die beslag in. Gooi in ’n gesmeerde en gevoerde rolkoek-pan en bak in ’n verhitte oond vir 10 tot 12 minute.

4 Stroop Terwyl die koek in die oond is, verhit die lemmetjiesap en roer dan die strooisuiker by.

5 Sprinkel ’n bietjie strooisuiker oor ’n effens klam vadoek. Haal die koek uit die oond uit en keer dit uit op die vadoek. Trek die bakpapier af en sny die kante reguit. Drup die stroop oor, rol op en laat eenkant afkoel.

6 Klits die vulsel tot dik en romerig. Rol die koek oop, smeer die vulsel daaroor en rol dit weer toe. Hou dit in die yskas tot jy gereed is om voor te sit. Sif versiersuiker oor en versier met witsjokoladekrulle.