Tuesday 16 July 2013

Piekelsuurlemoene




Piekelsuurlemoene
Resep deur Peter van Noord

Gebruik vir hierdie resep verkieslik suurlemoene vars van die boom af – vrugte met baie sap en so ’n goudgeel, glinsterende skil. (Ja, natuurlik kan jy gekooptes ook gebruik.)
Jy benodig:
•ja, reg geraai, suurlemoene – soveel as wat jy kan of wil inmaak
•sout, baie sout

VIR ELKE FLES WAT JY VOLMAAK (dis opsioneel)
•1 kaneelstokkie
•3 heel naeltjies

•6 koljandersade
•4 heel swartpeperkorrels
•1 droë lourierblaar
•1 heel rooi rissie (mits jy van ’n branderigheid hou)
•vars uitgedrukte suurlemoensap

Só maak jy:
1.Week die heel suurlemoene vir drie dae in louwarm water. (Nee, jy hoef nie met ’n haardroër die water warm te hou nie; gooi net elke oggend die water af en vervang dit met nuwe louwarm water.)
2.Sny die suurlemoene van bo af in kwarte, maar moenie dit regdeur sny nie – hou so 1 cm van onder af op.
3.Gooi ’n eetlepel sout onder in elke gesteriliseerde fles. Trek die vier kwarte van elke suurlemoen uitmekaar en gooi die vlees ook vol sout. Pak dan die suurlemoene in die fles – druk dit stewig af sodat die sap uitloop en daar plek is vir nog suurlemoene in die fles (amper soos in ’n taxi). Sit die speserye tussendeur in, maar hou dit aan die kant van die fles sodat dit darem ook iets vir die oog is.
4.Gooi nou die flesse tot bo vol met die suurlemoensap. Stamp die fles so ’n paar keer op die tafel sodat enige lugborrels uitkom en maak dit dan weer vol met sap. (Moet om hemelsnaam nie gebottelde suurlemoensap gebruik nie – dit moet vars uitgedruk wees.) Al die vrugte moet met sap bedek wees, maar sorg dat daar bo in die fles so ’n bietjie lug is sodat die inhoud effens kan rondskommel as jy dit omdraai.
5.Laat die suurlemoene vir 30 dae op ’n warm plek ryp word. Draai soggens en saans die flesse om sodat die sout en suurlemoensap mooi in die fles versprei.
6.As jy ’n suurlemoengeurtjie nodig het, haal soveel uit as wat jy nodig het, krap die pulp uit en spoel die heerlike sagte skil onder lopende water af. Dan kan jy dit na hartelus gebruik. (Sien kassie hiernaas.)

Weg sê: Pak ’n flessie hiervan in as jy die bosse invaar – selfs al is dit oopgemaak, hoef jy dit nie in die yskas te hou nie.