Tuesday 16 July 2013

Alles-in-een-ontbyt




Alles-in-een-ontbyt
Genoeg vir 6 mense

Jy benodig
 VIR DIE FRIKKADELLE
•2-3 eetlepels botter
•6 repies spek
•500 g boerewors
•½ soetpatat, fyngerasper
•½ koppie sampioene, fyngekap

•½ ui, fyngerasper
•2 eetlepels rissiemarmelade
•1 knoffelhuisie, fyngekap

VIR DIE SOUS
•2 blikke (410 g elk) tamatiesmoor (ons het Rhodes Tomato Braai Relish gebruik)
•1 rooi soetrissie, gekap
•6 eiers
•½ koppie gerasperde cheddar of gekrummelde fetakaas

 Só maak jy
1.Verhit die helfte van die botter in die pan en braai die spek tot bros. Dreineer dit op kombuispaper en kap dit dan in blokkies.
2.Druk die vleis uit die wors en meng dit met die res van die frikkadelbestanddele in ’n bak. Vorm 24 snoepgrootte bolletjies en sit dit in die yskas vir 30 minute – dit sal vir tot vier dae hou.
3.Smelt die res van die botter in ’n groot swaarboompan en braai die frikkadelle totdat dit gaar en goudbruin is.
4.Skep die frikkadelle uit, maar hou die pansappe. Keer die blikkies smoor daarin uit, voeg die soetrissie by en laat dit vir ’n paar minute saam prut.
5.Pak die frikkadelle terug in die pan. Maak met ’n lepel ses holtes in die smoor en breek versigtig ’n eier in elk. Sit die deksel op en laat dit vir nog 4 minute prut totdat die eierwit gestol het, maar die geel nog loperig is.
6.Sprinkel die kaas oor en sit dit dadelik voor saam met roosterbrood.

WENK
 Jy kan die rou frikkadelle ook oop op ’n bord vries en dit daarna in ’n Ziplocsakkie pak. Die frikkadelle sal vir tot drie maande in die vrieskas hou.