Friday 21 June 2013

Onderstebo-tert met ’n patat-kinkel





Onderstebo-tert met ’n patat-kinkel

GENOEG VIR 4
BEREIDINGSTYD 30 minute
BAKTYD 35 - 40 minute

Patat- tarte tatin

Die klassieke weergawe word met appels gemaak, maar ek wou dit ’n Suid-Afrikaanse gevoel gee deur patats te gebruik. Die patat word soos soetpatats gemaak en dan in ’n tarte tatin omskep. Bedien as bykos of as nagereg met geklopte room.

200 g (220 ml) botter
160 g (200 ml) witsuiker

4 middelslag-patats, geskil en in skywe gesny
sowat 1 ml fyn kaneel
sout na smaak
1 x 400 g-vel winkel-blaardeeg, ontvries

1 Sit die oondrak in die middel van die oond en verhit tot 200?°C.
2 Verhit die botter en suiker in ’n pan en roer tot dit smelt. Laat prut tot die mengsel karamelliseer. Voeg die patatskywe by en meng versigtig deur. Geur met sout en kaneel. (Dit gaan lyk of die botter-en-suikermengsel hard word, maar die vog van die patats laat dit weer ’n sous vorm.)
3 Kook die patats net sag. Pak mooi lagies van die patat in klein 10 cm-tertpannetjies. Jy kan ’n paar lae pak, want met die omkeerslag kan van die patats vassit. Gooi van die orige stroop in die pan oor die patats.
4 Sny vier deegsirkels die grootte van die pannetjies. Sit die deegsirkels bo-op die patats. Pak die pannetjies op ’n bakplaat en sit in die oond.
Bak vir 35 tot 40 minute tot die deeg gaar en bros is.
5 Sny die rande versigtig los met ’n skerp messie. Hou ’n opdienbordjie bo-op die pannetjie, hou die pannetjie en bord met ’n vadoek vas en draai om. As van die patats vassit, skep dit versigtig uit en sit bo-op die tertjie. Sit warm voor.