Monday 10 June 2013

Beetslaai as bygereg vir wildsete




Beetslaai as bygereg vir wildsete Beet raak deftig! Magda Johnstone en Toitnette du Toit het groot-oog in die wildsuitdaging ingegaan en ‘n Springbok-filet restaurantstyl voorgesit. Dis opgedien met gepiekelde beet wat baie fyn gekap is en ‘n soet-suur smakie tot die wildsdis bygedra het. Vir ‘n ekstra kinkel het die kokke ‘n bietjie van die gegeurde beetwater saam met die vleissappe afgekook om ‘n lekker sous (jus) te maak. Hier is die resep vir die beetslaai.

8 medium beet
3 l water
200 ml verjuice*
100 ml goeie witwynasyn
Knypie saffraandrade

80 g suiker
5 ml sout
Varsgemaalde swartpeper
Knippie rooipeper en droë rissievlokkies

Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en kook beet oor lae hitte tot sag (sonder deksel). Haal die beet uit en laat effe afkoel. Hou die beetwater.

Verwyder die beet se skille en kap dit baie fyn.

Gooi die beetwater deur ‘n sif en gooi terug in die kastrol. Kook die water baie stadig af tot dit ‘n stroperigheid (reduksie) vorm.

Meng die beetblokkies met ‘n bietjie van die reduksie en gooi die rooipeper en rissievlokkies by. Laat staan ‘n rukkie vir die geure om te ontwikkel.

Opdiening: plaas die beetblokkies in ‘n sirkel in die middel van elke bord (kan ‘n koekiedrukker gebruik om dit in ‘n mooi vorm te kry). Druk die hopie netjies met die agterkant van ‘n lepel plat.

Plaas dan snye van jou gaar wildsvleis bo-op die beet.

• Term: verjuice is die suur sap van groen (onryp) druiwe, wat al vir eeue in kosmaak gebruik word.