Friday 10 May 2013

Springbokpastei




Zelda Geldenhuys Griessel
Blaardeeg is gewild, maar dié kors is nog lekkerder - en almal kan dit maak.

 (8 - 10 porsies)
• 1 springbokboud, sowat 2,5kg
• 40ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 400g gerookte spek, in blokkies gesny
• 40ml bruinasyn
• 2 lourierblare
• 8 heel naeltjies
• 500ml water
• sout en swartpeper
Sny die been uit die boud - dit maak dinge net makliker as jy vleis fynkook. Sny vleis in groot stukke. Verhit olie in 'n groot kastrol. Braai ui en spek saam vir so 10 minute. Maak seker die ui word nie bruin nie. Voeg vleis by en braai vir nog so 10 minute. Voeg asyn, lourierblare, naeltjies en water by. Geur met sout en swartpeper. Sit 'n deksel op en verlaag die hitte sodat die vleis stadig prut vir sowat 4 uur, waarna dit uitmekaar sal val. Maak nou die vleis los met 'n vurk. Proe of die vulsel nog sout en peper kort. Daar moet nog heelwat sous wees, anders bak jou vulsel droog. Skep vulsel in 'n oondvaste bak. (As dié hoeveelheid vir 10 mense te veel is, vries die helfte vir nog 'n pastei. Kyk in die kassie regs bo watter grootte jy wil maak.) Verhit jou oond tot 180°C. Maak die beslag en skep op die vulsel. Bak vir 30 minute tot goudbruin.
Slapdeeg vir Pastei...wat jy moet weet.

 Vir 'n ronde bak van sowat 20 x 10cm met  die helfte van die resep links se vleisvulsel
(6 porsies)
• 1 eier
• 125ml melk
• 125ml sonneblomolie
• 120g (215 ml) koekmeel
• 10ml bakpoeier
• 1ml sout

 Vir 'n langwerpige bak van sowat
30 x 18cm met die hele vulsel
(10 porsies)
• 2 eiers
• 250ml melk
• 250ml sonneblomolie
• 240g (430ml) koekmeel
• 20ml bakpoeier
• 2ml sout
1. Klits eier, melk en olie saam.
2. Meng meel, bakpoeier en sout in 'n mengbak. Voeg die eiermengsel by en klits goed totdat daar geen klonte is nie.
3. Skep die beslag oor die vleis.