Wednesday 27 February 2013

Franse roosterbrood met kaas, voorgesit met sampioene en chorizo




Genoeg vir: 4
• 8 snye witbrood
• botter vir smeer
• 100 g gruyère-kaas, in dun snytjies gesny
• 4 groot eiers
• 125 ml melk

• vars of geroosterde tamatie om voor te sit
Sampioene en chorizo• sonneblomolie vir braai
1⁄2 ui, in dun ringetjies gesny
• 1 chorizo-wors, opgesny
• 250 g bruin sampioene, in kwarte gesny
• ’n takkie vars tiemie, plus ekstra vir garnering
1 Sampioene en chorizo Verhit ’n bietjie sonneblomolie en braai die ui sag. Voeg die chorizo by en braai bruin. Skep uit die pan en hou eenkant.
2 Verhit nog ’n bietjie olie en braai die sampioene saam met ’n takkie tiemie tot sag. Skep die chorizo terug in die pan en soteer vir ’n paar minute saam. Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper. Hou eenkant.
3 Franse roosterbrood Smeer botter op die brood. Sit ’n paar snye kaas op vier van die snye brood en sit die oorblywende vier bo-op. Druk op mekaar vas.
4 Klop die eiers, melk en sout en peper na smaak saam. Gooi dit in ’n vlak bakkie. Doop die broodjies in die mengsel en draai dit om sodat dit die mengsel absorbeer.
5 Verhit ’n bietjie olie en botter in ’n pan oor medium hitte. Braai die broodjies tot bruin aan die een kant, draai versigtig om en braai die ander kant. Sit warm voor met die sampioenmengsel en tamatie. Garneer met vars tiemie.