Sunday, 9 December 2012
APPEL-EN-KANEELMISVERSTAND
APPEL-EN-KANEELMISVERSTAND - Die Nataniël Tafel
JY BENODIG
1 vel gekoopte skilferkors deeg
BOLAAG: 1/3 k koekmeelblom
¼ k bruinsuiker, vasgedruk
1 e mieliemeel of semolina
½ t kaneel
knippie sout
50g ongesoute botterblokkies, by kamertemperatuur
50g geblansjeerde amandelvlokkies
VULSEL: 1 vanieljepeul se saadjies
1/3 k suiker
4 groot Golden Delicious-appels, afgeskil en in dun skyfies gesny
30g botter, gesmelt
METODE
BOLAAG : Meng die koekmeelblom, suiker, mieliemeel, kaneel en sout in 'n bakkie. Meng die botter met 'n vurk totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Vou die amandels in en hou in die yskas totdat jy dit wil gebruik. VULSEL : Meng die vanieljesaadjies en die suiker (die saadjies kleef aan mekaar vas – meng dus deeglik). Meng met die appels en laat staan eenkant vir minstens 30 minute totdat die appels 'n bietjie sag begin raak. Dreineer die appels en voeg die botter daarby. Verhit die oond tot 180 ˚C. Rol die deeg op 'n groot, meelbestrooide vel bakpapier uit. As die deeg te koud is, sal dit erg krummel. Wees geduldig. Probeer om 'n dun sirkel met 'n oneweredige rand uit te rol. Pak die appels in die middel op 'n hopie met 'n 4 cm-deegrand reg rondom. Plooi en vou die rand rondom oor die vulsel. Skuif die crostata (dis die misverstand se Italiaanse naam) papier en al op 'n groot bakplaat met 'n rand (die souserigheid sal uit die crostata sypel terwyl dit bak). Bak vir 35 – 40 minute. Sit warm of louwarm voor met vars room.