Thursday, 8 November 2012
Maak jou yskas en koskas skoon
Heleen Meyer
Kom ons kyk ’n bietjie deur die yskas en koskas en maak ’n plan met al die bietjies wat soms oorbly. Tipiese bestanddele wat vergete bly is die laaste maaskaas of jogurt en selfs olywe, peppadews, songedroogde tamaties, ’n laaste bietjie blatjang, pesto of ander sous. Drie maklike maniere om dit te gebruik is om dit in ’n sop, sous of bredie te sit, gebruik dit in ’n slaai of bak ’n quiche daarmee.
Hier is ’n paar voorbeelde
1. Gooi die laaste blatjang, tamatiesous, sojasous of soet brandrissie-sous in een bottel saam en voeg ’n bietjie water of olyfolie by. Skink dit soos ’n marinade oor ’n stuk vleis of hoender of gebruik dit as die sous vir ’n roerbraai.
2. Sny olywe, songedroogde tamaties of peppadews in repies en gebruik dit in ’n slaai of roereier mengsel.
3. Verpulp peppadews, pesto of selfs blatjang in maaskaas met ’n stokmenger en gebruik soos ’n doopsous of op toebroodjies. Dis selfs lekker op aartappels.
4. Laaste bietjies groente kan in ’n groente- of tamatiesop verpulp word.
5. Soteer ’n ui met bv. ’n laaste murgpampoentjie, wortel of paar sampioene in ’n pan. Skink 4-6 geklitste eiers bo-oor, geur na smaak en laat met ’n deksel prut om ’n pan-omelet te maak.
6. ’n Korlose quiche is so maklik soos om 250 ml melk met 3 geklitste eiers te meng en oor feitlik enige oorskiet groente of vleis te skink. Vleis soos hoender, ham of tuna werk goed. Bak teen 180 °C vir 30-40 minute of tot gestol. Sien die resep hieronder.