Friday, 22 June 2012

WILDSVLEIS PASTEI

'n Heerlike pastei met geurige beloftes onder die goudbruin kors.

1,5kg wildsblad of -boud
375 - 500ml karringmelk
125g swoerdlose spek, gekap
30 ml botter
olie, opsioneel
1 groot ui, gekap
3 vet knoffelhuisies, gekneus
500g skaapskenkels, in skywe van 25mm gesaag
30ml koekmeelblom
5 ml sout

vars gemaalde swartpeper
1 heel ui, geskil met 5 naeltjies daarin gesteek
2 lourierblare
10 ml fyn koljander
sowat 500ml aftreksel
250 ml rooi wyn
400 g bereide skilferkorsdeeg (bereiding onderaan)
1eier, geklits

Marineer die wildsvleis in karringmelk. Bedek vleis met kleefplastiek en plaas in yskas vir 'n dag lank. Druk vleis droog en gooi karringmelk weg. Sny dit in blokkies van 25 mm. Braai spek in verhitte botter. Braai gekapte ui in dieselfde kastrol tot sag en deurskynend en roerbraai knoffel by. Voeg spek by. Voeg 'n bietjie olie by en braai lamskenkels in dieselfde kastrol tot goudbruin. Bedek wildsvleis met koekmeelblom en braai 'n paar stukkies op 'n keer tot goudbruin. Voeg lamskenkels, spek en uie by wildsvleis in kastrol. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper en voeg die heel ui met naeltjies by. Voeg ook lourierblare en koljander by, gevolg deur verhitte aftreksel en rooi wyn. Verhit tot kookpunt, verlaag temperatuur en bedek met 'n styfpassende deksel. Laat prut sowat 3 - 4 uur, of tot die vleis sag is en van die bene afval. Vul vloeistof, indien nodig, aan met aftreksel of rooi wyn. Laat afkoel en verwyder bene en heel ui. Vlok vleis. Prut tot sous lekker dik is en die meeste van die vloeistof afgekook het. Geur en laat afkoel tot koud. Voorverhit oond tot 230C. Skep vleis in 'n groot pasteibak. Bedek met 'n laag skilferdeeg en versier met deegrepies en -motiewe. Prik deeg met 'n vurk om stoom te laat ontsnap. Verf met geklitste eier en bak 15 minute. Verlaag temperatuur tot 180C en bak nog 30 - 35 minute. Bedien met gestoofde dro vrugte.

Genoeg vir 10 tot 12 mense.