Wednesday 16 May 2012



Al ooit opgemerk hoe pragtig die prentjies van 'n vertrek altyd in 'n tydskrif lyk, maar somtyds voel jy, jy sal dit nooit kan regkry nie?  Ons verklap 'n geheim wat sommer jou winter dae ook bietjie kan opkikker:

Die rede hoekom baie van die tydskrif prentjies van vertrekke in en om die huis altyd so pragtig lyk is seker 90% van die tyd ‘n pragtige bos blomme wat erens strategies geplaas is. 
‘n Bos blomme vrolik enige vertrek op, maar dis nie altyd moontlik om ‘n kombuis met blomme op te vrolik nie.  Sommige van ons het eenvoudig net nie die plek daarvoor nie.

Die oplossing is dus om op jou kombuis vensterbank ‘n plantjie of twee te sit. 

1)      Jy kan kies tussen ‘n magdom van kruie wat baie gewillig in ‘n kombuisvenster sal groei en jou ter selfde tyd sal beloon met die moontlikheid om sommer die kruieblaartjies net daar te kan pluk en gebruik.  (Voorbeelde is pietersielie, oreganum, ment en roosmaryn.) 

2)      Of kies ‘n blomplant wat jou sal beloon met vrolike blomme elke oggend wanneer jy instap om koffie te maak of die broodjies vir skool in te pak.

Gesels met jou kwekery.  Hulle sal jou kan help om ‘n goeie keuse te doen en onthou om vir hulle te sê of jou venster Noord of Suid wys, want dit sal bepaal wat jy kan plant en wat nie. 

Wenk:  Vrolike kleure vir die potplant houer wat inpas by jou dekor is sommer ‘n kits dekor item en sal die prentjie nog mooier afrond.

Belangrik:  Plante in ‘n vensterbank het somtyds ekstra water nodig, maak dus gereeld seker dat die plantjie nie uitdroog nie.