Wednesday, 15 February 2012

VEERLIGTE SPONSKOEK




















VEERLIGTE SPONSKOEK MET AARBEIE EN ROOM (as dit korrek gevolg word is dit onmoontlik om nie sukses te behaal nie)
————————————–
Lewer 10–12 porsies

½ k plus 2 E plus 1 t (160 g) strooisuiker
2 t (10 ml) vanieljegeursel
1 E (15 ml) gerasperde suurlemoenskil (opsioneel)

4 groot eiers
¼ k (30 g) bruismeel
⅔ k (100 g) Maizena
1 t (5 ml) kremetart
½ t (2,5 ml) koeksoda
¾ k (180 ml) room
2 E (30 ml) versiersuiker
2 E (30 ml) aarbeikonfyt
12-18 vars aarbeie, afhangende van grootte
versiersuiker om oor te sif

1. Voorverhit die oond tot 180 /C en spuit twee 23 cm-deursnee veerklampkoekpanne liggies met kleefwerende sproei. Voer die bodems met bakpapier uit en spuit ook liggies.
2. Klits die strooisuiker, vanieljegeursel, suurlemoenskil en eiers vir 5 minute teen hoë spoed tot liggeel en donsig.
3. Sif intussen die meel, Maizena , kremetart en koeksoda 2 keer op ‘n groot stuk bakpapier.
4. Strooi die gesifte meel oor die eiermengsel en vou vinnig, maar baie sorgvuldig met ‘n groot metaallepel in tot heeltemal gemeng. Werk versigtig om nie die lug uit die beslag te roer nie.
5. Verdeel die beslag eweredig tussen twee koekpanne en bak in die middel van die oond vir 20 minute. Moenie met ‘n toetspen steek nie – dit sal die koek laat platval. Die koek sal effe van die panrand af wegtrek wanneer dit gaar is.
6. Laat die koeke 30 sekondes buite die oond staan en wikkel dan die rande met ‘n slaplemmes versigtig los.
7. Plaas bakpapier op twee afkoelrakkies en keer die koeke daarop om. (Die papier verhoed dat die rak strepe maak soos die koeke afkoel.) Trek solank die sirkels bakpapier onderaan af terwyl die koeke nog warm is.
8. Klits intussen die room en versiersuiker saam styf en sny die aarbeie in dun skyfies.
9. Wanneer die koeke heeltemal afgekoel is, word dit versier: verhit die konfyt tot smeerbaar en smeer bo-oor een koek.
10. Smeer die geklopte room oor die konfyt en pak aarbei skyfies oor die hele oppervlak.
11. Sit die tweede koek netjies bo-op en sif versiersuiker oor.


Variasie
Vervang die room en aarbeie met mascarpone en grenadellapulp:
Klop 1 k (250 ml) mascarpone tot styf, klop 2 E (30 ml) versiersuiker plus die pulp van 4 grenadellas (1 blikkie) en 2 t (10 ml) vanieljegeursel by en gebruik as vulsel. Die aarbeikonfyt kan hier weggelaat word.