Altyd gedink ‘n potte-tuin is vervelig? Kyk bietjie wat kan gedoen word deur net potte op verskillende hoogtes bymekaar te rangskik. Hierdie is ‘n oulike water spaar idee en baie oulik vir iemand wat ‘n lae onderhoud tuin soek.
Dalk sien jy nie meer kans vir ‘n groot tuin nie of die ou lyf wil nie meer saamspeel met al die buk en onkruid uittrek en spit in die tuinbeddings nie. Of miskien is water bietjie skaars in jou area en soek jy iets wat jy maklik met ‘n gieter kan nat maak. Dan is ‘n oulike potte-tuin ‘n goeie idee. Jy kan die potte bymekaar rangskik in hoogtes waarvan jy hou en jy kan die tuintjie so groot maak soos wat dit vir jou gemaklik voel.
Beplan jou tuin soos jy ‘n blommeruiker sou beplan. Goed wat hoog groei aan die agterkant en van daar maak dit ‘n mooi prentjie tot by die klein plantjies heel voor. Rond dit af met ‘n paar spoelklippies en ‘n paar groot klippe en dit lyk pragtig. Of jy dit formeel wil hou of meer informeel soos op die foto, hang van jou af. Jy kies die plante en styl waarvan jy hou. Jy kan selfs ‘n voëlbak in die middel sit met ‘n bietjie water vir die voëltjies wat jou potte-tuin kom besoek.
Die moontlikhede is baie en die voordeel is dat jy selfs kruie in potte tussen die ander potte kan sit. Geen kat of hond gaan naby hulle kom nie en bv. pietersielie of tiemie maak oulike “vuller-plante” vir jou potte-tuin.
As jy plek het om dalk ‘n ronde tuintjie van potte uit te lê kan jy daaraan dink om ‘n boompie as middelpunt te gebruik. Sit ‘n groot pot in die middel en plant daarin bv. ‘n sitrusboom of enige boompie waarvan jy hou (dit kan selfs een wees wat mooi herskleur blare gee). Plaas dan die ander potte rondom en rond af soos hier bo genoem.
Daar is net een belangrike ding om te onthou. Wanneer jy die potte-tuintjie beplan, maak voorsiening dat jy met gemak by elke pot sal kan uitkom om dit water te kan gee of vir wanneer jy dalk besluit om ‘n plantjie te vervang of ‘n kruieblaartjie wil pluk.
Geniet dit.