Thursday 15 December 2011

KERSFEESBOMBE
























Genoeg vir: 1 groot bombe (18-24 porsies)

4 liter vanieljeroomys
2 liter sjokoladeroomys
140 g gemengde glansvrugte, gekap
100 g neute, gerooster (gebruik haselneute, pekanneute, okkerneute of kasjoeneute)
100 g glans- of maraschinokersies, gedreineer, gekap
250 ml room
1 blik karamel, geklits
100 g donkersjokolade van goeie gehalte
silwer balletjies

1 Gebruik 'n sewelitermengbak vir die maak van die bombe. Dit moet verkieslik van glas of metaal wees, aangesien dit die vriesproses bespoedig. Neem 2,5 liter vanieljeroomys vir die eerste laag. Moenie die roomys te sag te laat word nie, anders gaan dit teen die kante van die bak afgly as jy dit wil
vorm. Skraap die roomys uit die roomysbak en pak of plak dit teen die kante van die mengbak. Moenie bang wees om jou hande te gebruik nie - dit is eintlik die maklikste. Gebruik die agterkant van 'n metaallepel om die roomys glad te smeer nadat jy die eerste laag gevorm het. Sit dit onmiddellik in die vrieskas om hard te word.

2 Vir die volgende laag, meng die glansvrugte en neute in die sjokoladeroomys in. Sodra die vanieljelaag in die mengbak kliphard is, haal die mengbak uit die vrieskas en smeer die sjokoladelaag bo-oor die vanieljelaag. Plaas terug in die vrieskas om hard te word.

3 Meng die oorblywende vanieljeroomys met die kersies en vorm nog 'n laag bo-oor die sjokoladeroomys in die mengbak. Plaas weer terug in die vrieskas.

4 Klits die room styf en vou by die geklitste karamel. Skep dit laastens in die mengbak, bedek met kleefplastiek en vries tot hard.

5 Om voor te sit Smelt die sjokolade en laat staan dit tot afgekoel, maar nie gestol nie. Keer die bombe uit die mengbak op 'n dienbord: Vou klam, warm vadoeke oor die mengbak sodat die bombe makliker loskom. Giet die gesmelte sjokolade oor die bombe en sprinkel die silwer balletjies oor.