Thursday 8 December 2011

Jogurt-lamsboud in 'n ysterpot

Hierdie is 'n resep van Arina du Plessis en is baie lekker en sappig:

Jogurt-lamsboud in 'n ysterpot

Ek het 'n gietysterpot met 'n emaljebinnekant wat ek altyd vir dié resep
gebruik. As jy 'n plat swartpot het, gebruik hom. Of 'n klei-kasserol
(maak hom eers nat). Daar gaan baie vloeistof in die pot wees as die
boud gaar is, moenie skrik nie, dit moet so lyk.

1,5 kg lamsboud, ontbeen en
gevlek

375 ml dik, natuurlike jogurt
1 ui, gekap


5 knoffelhuisies, gekap

45 ml olyfolie

10 ml growwe sout

10 ml varsgemaalde swartpeper

Handvol (30 g) vars koljander

Sny die meeste van die vet en vel van die skaapboud af. Prik die hele
boud met 'n vurk en sit in 'n nie-metaal bak.

Verwerk ál die bestanddele vir die marinade goed saam tot glad en giet oor die boud. Draai om sodat die vleis goed bedek is. Bedek en marineer vir minstens vyf uur, maar verkieslik oornag. Voorverhit die oond tot 160°C. Sit die boud (met ál die marinade) in jou ysterpot. Bedek en bak vir 25 minute per 500 g (ongeveer 1 ½ uur vir 'n boud van 1,5 kg).

Laat die boud in die kookvloeistof (marinade) afkoel vir minstens 20 minute. Haal uit en sny. Sit warm of koud voor saam met enige bykosse of slaai.