Thursday 15 December 2011

HUISSKOONMAAK IN DIE NUWE JAAR OP ’n OMGEWINGSVRIENDELIKE MANIER
























Spring cleaning is ’n term waarmee ons almal welbekend is. Dit is nou nie juis iets wat mens baie opgewonde maak nie en die meeste mense dink gewoonlik enige verskoning uit om dit uit te stel. Nog iets wat baie sleg deurloop wanneer daar deeglik skoongemaakword, is die omgewing. Die middels wat ons gebruik om daardie kolle uit die bad te haal of die stoof weer wit te maak, bevat baie chemikalieë, wat skade aan Moeder Aarde aanrig.


Daar is talle bronne op die internet en boeke in die biblioteek wat jou kan leer hoe om ’n skoon huis te hê sonder om die omgewing te benadeel. Hier is ’n paar wenke van Annie Bond van Care2,waarmee jy solank kan begin:

Verwyder giftige produkte onder die wasbak in jou kombuis.

Vermy produkte met woorde soos ‘Gevaarlik’, ‘Giftig’, ‘Waarskuwing’, ens. op die etiket.

Vermy onherwinbare produkte, soos sponse met anti-bakteriese stowwe in, en gebruik eerder ou hemde of handdoeke.

Hou meer plante in jou huis. Plante verminder besoedeling in die huis en sorg vir skoner, varser lug.

Hier is ’n paar wenke oor produkte wat as plaasvervangers vir die gewone, skadelike produkte kan dien:

Suurlemoen: Hierdie vrug beskik oor anti-bakteriese eienskappe en het ’n heerlike vars geur.

Suurlemoenolie word by talle produkte gevoeg om daardie lekker reuk te verkry.

Sny ’n suurlemoen in die helfde, druk dit in sout en gebruik dit om al die koper in jou huis blink te vryf.

Suurlemoensap funksioneer ook as ’n bleikmiddel. Sit ’n bietjie van hierdie sap op jou wit linne en hang dit in die son. Die vlekke sal na ’n rukkie verdwyn en jy sal weer sneeuwit lakens hê.

Koeksoda: Hierdie bekostigbare produk is ideaal vir skoonmaak en skrop in jou huis.

Meng koeksoda en water in ‘n bekertjie en verhit dit vir ’n paar minute in die mikrogolfoond. Die oplossing sal die binnekant van die mikrogolfoond klam maak en alle droë kosspatsels aan die binnekant van die mikrogolfoond, sal maklik afvee.

Die gebruik van koeksoda om jou dreine skoon te maak, verminder ook die voorkoms van vreemde reuke en oorblyfsels wat deur gewone, chemiese produkte veroorsaak kan word.

’n Resep vir tuisgemaakte ‘groen’ politoer:

Meng ‘n koppie olyfolie en ‘n halwe koppie suurlemoensap saam in ‘n nuwe spuitbottel. Skud die bottel baie goed elke keer voor jy dit gebruik. Spuit die oplossing op jou meubels en vryf dit deeglik in vir ‘n eweredige glans.