Tuesday 6 September 2011

AALWYNE
















Plant 'n aalwyn of drie en skep visuele impak met kleur en tekstuur.
Aalwyne is ware Afrika-kinders, met 'n stuk of 400 lede in die Aloe-familie wat van die Arabiese skiereiland, oor die vasteland en sy eilande tot by Kaappunt baljaar.
Dis een van ons bekendste en kleurvolste sukkulente en kom voor in 'n wye verskeidenheid groeiwyses - van die groottes wat hoog en regop staan, tot klein, fynetjies wat onder die klippe wegkruip. Die plante is gehard en aangepas vir uiters droë toestande, danksy die vlesige blare waarin hulle water opgaar. En hoewel die aalwyn se magdom medisinale gebruike deesdae wêreldwyd bestudeer word, gebruik Afrika se inwoners dit al eeue lank vir allerlei kwale. Aalwyne het gewilde staatmakers in ons tuine geword. Hulle gee kleur wanneer die wêreld vaal word en vra nie veel in ruil nie. Daarby werk hulle as argitektoniese elemente wat hoogte verleen of vir trefkrag sorg in interessante groeperings. Die meeste aalwynspesies kan met gemak in ons tuine aangeplant word.
KWEEKWENKE
Grond Die grond waarin aalwyne in hul natuurlike habitat groei, kry 'n mens nie altyd in die hande nie. Maak jou eie grondmengsel met 8 dele growwe sand, 4 dele rooi kleigrond, 'n bietjie kompos en steenkool-as. Voldoende dreinering is van die allergrootste belang.
LIGGING Die meeste aalwyne hou van 'n sonnige plek; ander floreer weer in beskutte areas in die tuin. Dwerg- en grasaalwyne kan met welslae in kleipotte geplant word.
VOORTPLANTING Aalwyne kan maklik van saad gekweek word. Hulle maak ook langs die stam klein plantjies wat afgebreek en oorgeplant kan word.
VERSORGING Aalwyne is waterwys en gehard. Hulle vra min aandag, indien enige, en jy moet net so af en toe 'n droë blaar of stingel afbreek.
PESTE en PLAE Wees op die uitkyk vir witluis, roes en snuitkewer.