Thursday 21 July 2011

SPYSKAART EN RESEPTE WEEK 11

SPYSKAART WEEK 11
MAANDAG                Kasselse steaks met pynappel
DINSDAG                  Vegetariese Hooimied
WOENSDAG             Gestoofde spesery-beesstert
DONDERDAG            Salmbolletjies
VRYDAG                   Pan Ete

MAANDAG - Kasselse steaks met pynappel
Genoeg vir: 4

30ml olie
4 Kasselse steaks
1 ui, in skyfies gesny
1 blik pynappelstukke

Verhit die helfte van die olie in 'n groot pan. Braai die Kasselse steaks totdat dit mooi bruin is aan al twee kante. Skep die steaks uit die pan.

Verhit die res van die olie in die pan en braai die ui tot sag. Voeg die steaks en die inhoud van die blik pynappelstukke by. Laat dit vir omtrent sewe minute prut. Skep die pynappelmengsel bo-oor die steaks en sit dit voor met baba-aartappels of rys en roerbraaigroente.

DINSDAG - Vegetariese Hooimied
4 tot 6 mense

1 groot pak Nachos-skyfies
1 koppie rou bruin rys, gekook
olyfolie
2 medium uie
2 blikkies gebakte bone
½ teelepel gedroogde origanum
½ teelepel gedroogde baisiliekruid
kropslaai
tamaties
komkommer
wortel, gerasper
avokado of nog beter, guacomole
1 eetleepel (opsioneel)

Braai uie in olie, en voeg bone en kruie by.

Pak die volgende in lae op jou bord:

Heelonder, die skyfies, dan die bonemengsel, dan die vars slaai, en dan die avokado of guacomole.

Wenk:  As jy nie guacomole kry nie, meng die avokado met 'n eetlepel sojamelk - dit voorkom dat dit bruin word.


WOENSDAG - Gestoofde spesery-beesstert
4 porsies

•250 ml (140 g) koekmeel
•mengsel van baie kaneel, minder kardemom en ’n bietjie naeltjies, volgens smaak
•sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
•2 kg beesstertstukke
•15 ml botter
•30 ml olie
•2 of 3 groot uie, gehalveer en in dun ringe gesny
•1 of 2 selderystingels, baie fyn gekap
•1 of 2 wortels, gerasper
•2 blikkies donker bier, soos Guinness
•1 bottel goeie gehoute chardonnay
•hand vol vars pietersielie, grofgekap  
•fyngerasperde lemoenskil (opsioneel . . .maar die gereg gaan nie dieselfde smaak daarsonder nie)

Geur koekmeel met die speserye, sout en swartpeper en rol die beesstertstukke daarin.

Verhit die botter en olie in ’n kastrol en soteer die uie, seldery en wortel tot sag. Haal uiemengsel uit die kastrol en hou eenkant.

Braai in dieselfde kastrol (want al die heerlike geure kan mos nie verlore gaan nie) die beesstertstukke aan albei kante tot donkerbruin. Doen dit ’n paar op ’n slag sodat almal ewe bruin word.

Sit al die vleis en die uiemengsel in die kastrol, voeg bier en wyn by en laat kook. Draai die hitte af, sit die deksel op en prut vir ’n paar uur totdat die vleis sag is en byna van die been afval (m.a.w. wanneer die kuiergaste se monde behoorlik water!). As dit lyk asof die vloeistof te min word in die pot, voeg beesvleis-aftreksel by.

Sprinkel pietersielie en lemoenskil teen die einde bo-oor.

DONDERDAG - Salmbolletjies
Genoeg vir: 4

1 klein blikkie salm, gedreineer en gevlok
2 middelslag-aartappels, gekook, geskil en in blokkies gesny
30ml gekapte pietersielie
skil van 1 suurlemoen
1 eier, liggies geklits
30ml koekmeel
50ml droë broodkrummels
olie vir braai

Gooi die salm, aartappel, pietersielie, suurlemoenskil en die helfte van die eier in 'n mengbak. Meng dit goed deur met jou hande. Vorm die mengsel in 12 bolletjies en pak dit op 'n bord. Sit dit vir vyf minute in die vrieskas sodat dit ferm kan word.

Haal die bolletjies uit die vrieskas en rol dit in die meel, daarna in die res van die eier en dan in die broodkrummels. Verhit die olie in 'n pan en braai dit vir omtrent twee minute aan elke kant. Sit dit voor met aartappelwiggies en slaai.

VRYDAG - Pan Ete

100ml Margarien
500g Aartappel
50ml Gekapte Ui
50ml Gekapte Groen Rissie
200ml Gerasperde Kaas
4 Eiers
5ml Sout
5ml Peper
5ml mosterd
340g Weense Worsies

Metode

Smelt Margarien In Pan.
Braai Ui Effens Bruin.
Voeg Soetrissie En Aarappels By.
Sit Deksel Op Pan En Verhit Vir 5 Min Oor Lae Hitte.
Klits Eiers En Voeg Geurmiddels By.
Gooi Eiers Oor Die Aartappel Mengsel.
Rangskik Gesnyde Weense Worsies Oor Die Aartappel Mengsel.
Sit Pan Se Deksel Op Verlaag Hitte En Verhit Mengsel Vir 10 Min Of Tot
Gestol.  Sny In Skywe En Bedien.