Thursday 7 July 2011

Skilferkorsdeeg


















Hierdie is die skilferkorsdeeg wat gebruik is vir die Wildspastei (kyk onder resepte) van Annalize Groenewald se boek Camdeboo Karoo Wildsvleis.

Vandag is dit so maklik ons koop sommer 'n rolletjie deeg in die winkel, maar bederf jou gesin en maak jou eie deeg, ek belowe dit smaak net lekkerder.

Die deeg kan ook gevries word.

Skilferkorsdeeg
Hoewel tydrowend, bly dit maar lekker. Dit vertoon ook baie aantreklik as dit op 'n pastei gebruik word. Dit is uiters belangrik om die bestanddele en die werkvlak koel te hou en om die deeg egalig uit te rol sonder dat dit gerek word.

Maak die deeg 'n dag voor die tyd sodat dit voor gebruik goed kan rus.

280 g (500 ml) koekmeelblom
2,5 ml sout
250 g koue botter
125 - 150 ml yskoue water
5 ml vars suurlemoensap

Stap vir stap skilferkors
Stap 1: Sif die meel en sout saam in 'n groot mengbak. Vryf 30 ml van die koue botter in meel. Voeg net genoeg yswater, gemeng met suurlemoensap, by om bestanddele te laat kleef.
Stap 2: Knie en vorm in 'n vierkantige, plat stuk deeg. Draai toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir 1 uur.
Stap 3: Verwyder die res van die koue botter uit yskas. Plaas botter tussen twee lae kleefplastiek of in 'n plastieksakkie. Druk dit met rolstok platter, en rol dit dan met 'n meelbestrooide rolstok uit tot 'n vierkant van 150 mm x 150 mm.
Stap 4: Rol deeg uit tot 'n vierkant van 250 mm x 250 mm. Maak seker die vorm is netjies om jou taak later te vergemaklik.
Stap 5: Plaas botter in die middel van die deeg en vou die deeg bo-oor die botter om dit "toe te draai". Rol deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak.
Stap 6: Vou in drie: Vou die onderste derde van deeg boontoe, en die boonste derde ondertoe. Seël rande, draai toe in kleefplastiek, en verkoel vir 30 minute.
Stap 7: Rol weer uit. Vou weer eens in drie, soos hierbo beskryf. Herhaal die uitrol-en-vou-proses sewe keer.
Stap 8: Verkoel deeg tot benodig. Rol deeg uit, bedek pastei en plaas terug in die yskas vir 30 minute voor dit gebak word.
Bak in 'n voorverhitte oond teen 200° C vir 20 - 25 minute tot goudbruin en uitgerys.

Bogenoemde resep kom uit Camdeboo Karoo Wildsvleis - Annalize Groenewald.