Sunday 3 July 2011

Ronde Sisters





















Die van julle wat sukkel om 'n koeksister te vleg, kan gerus hierdie maklike manier probeer, gebruik 'n doughnut drukker om die sirkels te maak.


(ongeveer 10-12 ronde sisters)

Stroop
Maak die stroop reeds die vorige dag. Dit moet yskoud wees, anders sal dit nie in die koeksisters intrek nie.
  • 1 kg suiker
  • 500 ml water
  • 2 stukke gemmer, gekneus
  • 2 ml kremetart
  • knippie sout
  • 1 kaneelstokkie
Sit al die bestanddele saam in ’n kastrol en bring tot kookpunt op die stoof terwyl jy dit roer. Maak toe met ’n deksel en laat vir 1 minuut kook. Haal die deksel af en kook vir nog 4 minute. Verwyder van die stoof en laat afkoel. Plaas die stroop in die yskas totdat jy dit benodig.

Deeg
  • 240 g (500 ml) koekmeelblom
  • 1 ml sout
  • 10 ml bakpoeier
  • 40 ml botter
  • 1 eier
  • 10 ml suiker
  • 100 ml koue water
  • 1 liter sonneblomolie
Sif die koekmeelblom, sout en bakpoeier saam. Vryf die botter in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Klits die eier, suiker en water saam. Voeg by die droë bestanddele en meng tot ’n sagte deeg. Maak die deeg met kleefplastiek toe en laat staan vir minstens 30 minute in die yskas. Rol die deeg sowat 1 cm dik uit en gebruik nou die oliebol-drukker. (Jy kan natuurlik die deeg ook in repe sny en vleg soos ’n gewone koeksister.) Maak die deeg met ’n kombuislap toe en laat rus vir sowat 10 minute terwyl jy die olie in ’n kastrol verhit. Diepbraai die sirkels ’n paar op ’n slag vir sowat 3 minute tot goudbruin aan albei kante. Maak seker die olie is nie te warm nie, anders verbruin die koeksisters voor hulle deurgaar is. Haal die sirkels uit die olie met ’n gaatjieslepel en dompel onmiddellik in die yskoue stroop vir sowat 1 minuut totdat die stroop lekker ingetrek het. Verwyder uit die stroop en plaas dit op ’n afkoelrak sodat die oortollige stroop kan afdrup.

Goeie raad
Plaas die bak met stroop bo-op ’n bak gevul met ys. Só sal jou stroop die hele tyd koud bly.


(Resep gekry in ‘n Sarie Tydskrif van November 2007)