Monday 4 July 2011

ROLY POLY NAGEREG














Nog 'n resep so uit ouma se kombuis.

Bedien 6-8

Bestanddele:

500ml koekmeel
10ml bakpoeier
125ml botter
2 eiers, geklits
65ml melk
ongeveer 200ml appelkooskonfyt
150g gekapte neute(opsioneel)

Sous:

375ml kokende warm water
250ml suiker
25ml botter

Voorverhit die oond tot 180C.

Sif die meel en bakpoeier saam en vryf die botter in tot die mengsel soos mieliemeel lyk.
Voeg die geklitse eiers en melk by en meng tot ‘n stywe deeg.(kan bietjie melk byvoeg indien te styf)

Rol die deeg op ‘n kapplank in ‘n reghoek vorm uit en smeer ‘n dik laag appelkosskonfyt oor die deeg. Rol soos ‘n rolkoek op en plaas in ‘n oondbak. (kan ook gekapte neute oorstrooi)

Berei die sous deur die kokende warm water, suiker en botter te meng tot die suiker heeltemal opgelos het. Giet dit oor die poeding en bak 1 uur in die voorverhitte oond. Sit voor saam met vla of room.