Tuesday 19 July 2011

Rabarber-rolpoeding met witsjokoladevla






















Rabarber is van die laatsomer tot die einde van winter beskikbaar en moet in so min as moontlik water gekook word. Danksy die effens suur smaak is dit ideaal om met 'n ryk tertdeeg te kombineer. In hierdie resep kan jy ook appel pleks van rabarber gebruik.

Genoeg vir: 6

Baktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 200 °C

2 bossies rabarber (omtrent 680 g as dit skoongemaak is)
62 ml (50 g) suiker
250 ml (120 g) bruismeel
250 ml (120 g) koekmeel
125 ml mielieblom
90 ml (90 g) botter, in blokkies gesny
125 ml koue water
15 ml water
100 ml strooisuiker

SJOKOLADEVLA

2 eiers
125 ml (100 g) strooisuiker
30 ml mielieblom
500 ml melk
200 g witsjokolade, gerasper

1 Voorverhit die oond en smeer 'n oondpan met botter. Sny die blare van die rabarber af, was die stingels skoon en sny dit dan in stukke van 2 cm. Pak die
rabarber in 'n enkellaag in die oondpan en strooi die suiker oor. Rooster dit vir 20-25 minute of tot sag. Sit dit dan eenkant om af te koel.

2 Sif die bruismeel, koekmeel en mielieblom saam. Vryf die botterblokkies met jou vingerpunte by die droë bestanddele in. Gooi die water by en gebruik jou hande om die bestanddele bymekaar te bring en 'n deeg te vorm. Keer die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak en knie dit tot glad.

3 Rol die deeg uit in 'n reghoek van omtrent 30 x 20 cm. Smeer die afgekoelde rabarber oor die deeg, maar los 'n rand van sowat 5 cm langs die een lang kant van die deeg. Sprinkel die strooisuiker oor (hou 10 ml daarvan agter) en rol diedeeg van die ander lang kant af op. Eindig met die naat na onder. Sit die rol op 'n gesmeerde bakplaat, verf dit met water en sprinkel die laaste bietjie strooisuiker oor. Bak die rolpoeding vir omtrent 30 minute of totdat dit goudbruin en bros is.

4 Maak die witsjokoladevla: Klits die eiers en suiker saam tot lig en donsig. Gooi die mielieblom en melk by en klits dit tot gemeng. Verhit die mengsel oor lae hitte en klop dit tot die sous verdik. Haal die vla van die plaat af en roer die sjokolade by tot alles gesmelt het. Sny die rolpoeding in skywe en sit dit voor saam met die witsjokoladevla.