Wednesday 27 July 2011

Lemoen, Nartjie, Suurlemoen, Pomelo, Lemmetjie...

'n Sitrusboom in enige tuin is altyd welkom.  Daar is so 'n groot verskeidenheid om van te kies.  Lemoene, nartjie, suurlemoen, pomelo, lemmetjie en nog vele meer.
Dis 'n maklike boom om in jou tuin te plant en hulle gooi nie blare af nie en is altyd groen.  Boonop gee hulle tonne bloeisels wat jou tuin sal vul met die lekkerste reuk. Onthou net die gat waarin jy hom plant moet twee keer die grote wees van die sak waarin jy hom gekoop het.  Sitrusbome groei ook baie goed in tuinpotte.  Sorg net dat die pot groot genoeg is en plant hul op 'n plek waar hulle lekker son kry. Die suurlemoen op die foto is 'n Erika en dra omtrent heeljaar vrugte.  Beslis welkom as jy somertyd dink aan 'n lekker visbraai of 'n heerlike suurlemoenstroop as lafenis teen die hitte.  Wintertyd gaan jy bly wees as jy 'n nartjieboom in jou tuin het wat help om die vitamiene C bietjie aan te vul.  Die kinders geniet dit ook om die nartjies en lemoene sommer so van die boom te kan pluk en eet.