Thursday 21 July 2011

Aartappeltjiprolletjies















Hierdie happie verg nogal harde werk – maar die kinders gaan gaande wees daaroor. Wel, die grootmense ook…

Jy benodig (vir 2 mense)
• 2 groot aartappels, geskil
• kookwater
• olyfolie
• Ina Paarman- gegeurde seesout

Sny die aartappels versigtig in die lengte in papierdun skyfies. Dompel die skyfies dadelik in die kookwater en laat dit vir ongeveer 5 minute daarin lê totdat dit so sag is dat dit kan buig sonder om te breek.

Rol die skyfies nou versigtig op en ryg dit aan sosatiestokkies wat in water geweek het. (Ons het metaalstokkies gebruik.) Los 1cm tussen elke rolletjie sodat hulle oraloor kan bros braai.

Verf die aartappel met olyfolie en sprinkel die seesout oor.

Rooster die tjiprolletjies vir 10-15 minute oor matige kole tot bros – draai dit gereeld om. Sit dit dadelik voor.

WENK Indien jy die resep vermeerder, gebruik ’n aparte bak warm water vir elke 2 aartappels.