Friday 27 May 2011

Tamatie-en-broodsop





















Die sop het sommer brood ín. Dis veral lekker vir ’n naweek-middagete. Moenie die korsies van die ciabatta weggooi nie, dit maak heerlike kaasbroodjies

(6 porsies)

Jy benodig

•1,5 liter groente-aftreksel
•60 ml olyfolie
•1 ui, fyngekap
•1 kg baie ryp tamaties, gekap (met skil)
•1 ciabatta-brood van sowat 30 cm, korsies verwyder en in stukke gebreek
•3 knoffelhuisies, fyngekap
•sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Laat aftreksel warm word in ’n kastrol. Verhit olyfolie in ’n pan en voeg ui en tamaties by. Braai vir 10 minute. Plaas tamatie-mengsel in jou voedselverwerker en kap fyn. Gooi dit in die kastrol met groente-aftreksel. Voeg brood en knoffel by. Maak kastrol met ’n deksel toe en laat prut vir sowat 45 minute. Roer sop nou en dan goed deur. Geur met sout en swartpeper.

Basiliekruid-en-parmesaan-kaaskorsies

Hierdie broodjies is vinnig en baie maklik om te maak.

Jy benodig

•50 ml olyfolie 
•hand vol vars basiliekruid, fyngekap
•sout en varsgemaalde swartpeper 
•ciabatta-broodkorsies
•sowat 50 g gerasperde parmesaan- of pecorinokaas

Verhit jou oond tot 180 °C. Meng olyfolie en basiliekruid saam. Geur met sout en swartpeper. Smeer korsies met dié mengsel en besprinkel met kaas. Plaas in die warm oond vir 5 – 10
minute totdat kaas gesmelt is. Sit warm voor.