Friday 27 May 2011

Boontjiesop en volkoringbrood




















(6 porsies)

Jy benodig
• 50 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• 1 wortel, in klein blokkies gesny
• 1 selderystingel, in skywe gesny
• 2 aartappels, in klein blokkies gesny
• 400 g gerookte varktjops (kassler-ribs), in blokkies gesny, van die been af
• 3 blikke botterbone (400 g elk)
• 800 ml hoender-aftreksel
• 1 lourierblaar
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit olyfolie in ’n kastrol. Braai ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg wortel, seldery en aartappel by en braai verder vir sowat 5 minute. Gooi gerookte varkvleis by en braai vir nog 10 minute. Voeg bone, aftreksel en lourierblaar by. Geur met sout en swartpeper en laat kook vir 35 minute. Onthou om elke nou en dan te roer. Sit voor saam met volkoringbrood.


Volkoring-gesondheidsbrood
Werklik baie maklik om te maak: Gooi alles in ’n bak en meng. (Maak een 18 x 8 cm-brood of 2 medium- of 3 baie klein broodjies.)

Jy benodig
• 125 ml spysverteringsemels
• 125 ml sonneblomsaad
• 375 ml volkoringmeel
• 250 ml koekmeel
• 10 ml heuning
• 10 ml bruinsuiker
• 5 ml koeksoda
• 3 ml sout
• 500 ml karringmelk

Verhit jou oond tot 180 °C. Meng al die bestanddele saam, behalwe die karringmelk. Voeg dan karringmelk by. Jy moet alles goed meng en die beslag moet taamlik klam wees. Gooi beslag in ’n gesmeerde broodpan van 18 cm x 8 cm (of ander groottes, soos verkies). Strooi ’n bietjie sonneblomsaad oor.

Wenke
• As jy een brood bak, bak dit vir 1 – 1 ½ uur tot gaar.
• Laat 45 minute – 1 uur toe vir die medium-brode.
• Sowat 35 minute vir die kleintjies.
• Toets met ’n toetspen om seker te maak dis gaar.