Tuesday 24 July 2018

Gevulde boerewors



Gevulde boerewors
.
■ 600 g-800 g dik boerewors
■ Water
■ Olie vir braai...
■ 1 ui, gekap
■ 2 knoffelhuisies, gekap
■ 125 ml gerasperde of gekrummelde kaas van jou keuse (ek het ’n mengsel van feta en parmesaan gebruik)
■ 500 ml vars broodkrummels
■ 15 ml gekapte, vars pietersielie
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ Olyfolie om te bedruip
Sny die wors in 6-8 ewe lang stukke met ’n skerp, getande mes. Pak die stukke wors in ’n enkellaag in ’n groot pan en giet ’n bietjie warm water oor. Bedek en verhit tot kookpunt. Prut tot die wors halfgaar is.
Laat vir 5 minute in die pan afkoel, skep uit en pak op ’n snybord. Maak ’n snit in die lengte van elke stuk wors, maar wees versigtig om nie dwarsdeur te sny nie. Pak die wors op ’n gesmeerde bakplaat. Voorverhit die oond tot 200°C.
Braai die ui en knoffel in ’n bietjie olie tot sag en meng dit met die kaas, broodkrummels, pietersielie, sout en peper goed saam en skep in die insnyding van elke porsie boerewors. Stapel die krummelmengsel sommer lekker hoog.
Bedruip met ’n paar druppels olyfolie en bak vir 20 minute tot die krummellaag goudbruin is. Sit voor met tuisgemaakte tamatiesmoor en ’n mengelslaai. Lewer 4 porsies.

(Landbouweekblad)