Friday 29 June 2018

WILDSPASTEI



ANNATJIE REYNOLDS SE WILDSPASTEI

SODAWATER-PASTEIDEEG
500 ml koekmeel
2,5 ml sout
250 g koue botter, in blokkies gesny
100 ml yskoue sodawater
20 ml brandewyn
Sif die meel en sout saam.
Gooi die botterblokkies by en vryf dit met vingers by die meel in totdat dit soos broodkrummels lyk. Gooi sodawater en brandwyn by en meng dit tot ’n stywe deeg. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit vir ’n uur in die yskas rus. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n reghoek uit. Vou die reghoek in drie lae oor mekaar en draai die gevoude reghoekie dwars voor jou. Herhaal die rol-en-vouproses nog twee keer. Bedek die deeg en laat dit vir nog 20 minute in die yskas rus. Herhaal nou die vouery nog drie keer.

WILDSVULSEL
1 groot ui, gekap
sonneblomolie
500 g lamskenkels
1,5 kg wildsvleis (skenkels, nek of blad)
omtrent 750 ml hoenderaftreksel, (genoeg om die vleis te bedek)
3 eetlepels gemaalde koljander, gerooster
1 teelepel wonderpeper en/of naeltjies (opsioneel)
1 teelepel witpeper
3 teelepels sout
3 eetlepels bruin asyn
1 eetlepel brandewyn
2 eetlepels koekmeel, met ’n bietjie water gemeng tot ’n pasta

1. Gebruik ’n swaarboomkastrol en braai ui in warm olie tot deurskynend. Skep die ui uit en braai dan die lamskenkels tot mooi bruin. Gooi nog olie of vet by, indien nodig. Skep die skenkels uit met ’n gaatjieslepel en braai dan die wildsvleis bruin. Skep dit ook uit.
2. Gooi die res van die bestanddele (behalwe die meelpasta) in die pot en verhit dit totdat dit begin kook. Skep die bruingebraaide vleis en ui terug in die pot. Sit ’n styfpassende deksel op en laat dit stadig prut totdat die vleis sag is en van die bene begin afval. (+ -2½ uur.)
3. Skep die bene uit en verdik die vleismengsel met die meelpasta. Proe en gooi nog sout of peper by, indien nodig. Skep die vleis in ’n groot pasteibak en laat dit eenkant staan om heeltemal af te koel.
4. Bedek die vleis met ’n laag pasteideeg, verf dit met geklitste eier en bak dit vir ongeveer 45 minute in ’n voorverhitte oond (220°C) of totdat die kors goudbruin en gaar is.