Friday 20 April 2018

Kerrietjops



Kerrietjops
Bestanddele
•olie of skaapvet vir vlakbraai
•2 knoffelhuisies, gekap
•500 g lams- of skaaplendetjops
•sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Kerriesous
•500 g uie, in ringe gesny
•1 E (15 ml) kerriepoeier
•1 t (5 ml) borrie
•4 t (20 ml) fyn appelkooskonfyt
•2 t (10 ml) bruinsuiker
•½ k (125 ml) bruinasyn
•1 ½ k (375 ml) hoenderaftreksel
•1 lourierblaar
•2 hardgekookte eiers, in skyfies gesny
Metode:
1.Verhit die olie of skaapvet oor matige hitte in ’n swaarboompan en voeg die knoffel by.
2.Geur die tjops met sout en peper en braai dit tot net bruin, maar nie heeltemal gaar nie. Skep die vleis uit in ʼn oondvaste bak en bedek. Hou eenkant tot benodig.
3.Voorverhit die oond tot 180 °C.
4.Gebruik dieselfde pan en smoor die uie en knoffel liggies tot die uie deurskynend is. Skep die gesmoorde uie bo-oor die vleis.
5.Meng die kerriepoeier en borrie in dieselfde pan en voeg dan die konfyt, bruinsuiker, asyn en hoenderaftreksel by. Laat dit ’n paar minute prut tot die sous effens afgekook het. Verdik die sous indien nodig.
6.Plaas die lourierblaar op die tjops, skep die sous oor die vleis en bedek. Bak vir ongeveer 20 minute tot gaar.
7.Garneer met skyfies hardgekookte eier en bedien met kapokaartappels en ertjies.
Wenk: Gebruik verkieslik vet om die tjops mee te braai. Sny die vet van die tjops se rugkant af, braai dit in die pan uit en braai dan die tjops hierin