Wednesday 13 December 2017

Drie idees met ’n blikkie tuna



Drie idees met ’n blikkie tuna

Aartappels met ‘n tuna vulsel
4 groot aartappels...
125 ml gladde maaskaas
1 x 170 g-blik tuna

8 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap
kruie na smaak, gekap
Voorverhit oond tot 180 ̊C en bak 4 groot aartappels met die skil vir 30-40 minute of tot sag. (Of kook in ‘n bietjie water tot sag.) Maak intussen ’n vulsel deur die volgende bestanddele te meng: 125 ml gladde maaskaas; 1 x 170 g-blik tuna, gedreineer en 8 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap. Voeg gekapte kruie na smaak by, bv. grasuie, pietersielie en dille. Sny ‘n kruis bo-in elke aartappel en druk liggies om die binnekant oop te druk. Skep versigtig die binnekant uit tot jy ’n dop oor het, maar wees versigtig om nie die skil te skeur nie. Druk die uitgeskepte aartappel met ‘n vurk fyn en meng met die vulsel. Geur na smaak en meng 60 ml gerasperde cheddarkaas by. Skep die vulsel versigtig terug in die dop en sprinkel ’n bietjie ekstra kaas oor. Sit warm of teen kamertemperatuur met ’n groen slaai voor. (Jy kan ook die gevulde aartappel vir ’n klein rukkie terugsit in die warm oond.)
Oop-toebroodjie met tuna
1 x 170 g-blik tuna
45-60 ml goeie gehalte mayonnaise
3 agurkies, fyngekap (of 10 kappertjiesade)
sout en peper
suurlemoensap
enige vars kruie
Italiaanse broodjies
komkommer
avokado
tamaties
roket
Italiaanse pietersielie
Dreineer 1 x 170 g-blik tuna en meng met 45-60 ml goeie gehalte mayonnaise en 3 agurkies, fyngekap of 10 kappertjiesade. Geur met sout, peper en suurlemoensap en enige vars kruie. Sny bros Italiaanse broodjies oop en sit die tunavulsel met komkomer-, avokado- en tamatieskyfies en roket bo-op. Garneer met gekapte vars Italiaanse pietersielie en swartpeper. Sit as ‘n ligte-ete voor.
Tuna-en-ertjiepasta
250 g pasta
250 ml bevrore ertjies
30 ml suurlemoensap
45 ml olyf- of avokado-olie
2 x 170 g-blikkies tuna
30 ml gekapte dille
45 ml gekapte Italiaanse pietersielie
30 ml gekapte kruisementblare

Kook 250 g pasta en dreineer. Voeg 250 ml bevrore ertjies by die pastawater, net voor jy die pasta dreineer. Roer deur en dreineer pasta en ertjies saam. Meng 30 ml suurlemoensap en 45 ml olyf- of avokado-olie met die warm pasta en ertjies. Meng 2 x 170 g-blikkies tuna met die vloeistof en 30 ml gekapte dille, 45 ml gekapte Italiaanse pietersielie en 30 ml gekapte kruisementblare. Sit warm of teen kamertemperatuur voor as ‘n ligte-ete voor.