Ance se Sjokolade Poeding Resep
( Genoeg vir 12 groot porsies )
Bestandele- 500 ml suiker ( 2 koppies)
- 500 ml bruismeel ( 2 koppies) OF 500 ml koekmeel en 20 ml bakpoeier ( 4 teelepels )
- 2,5 ml sout (1/2 teelepel )
- 250 ml botter of margarien ( 1 koppie of 250 g as jy dit eerder wil weeg )
- 180 ml water ( 3/4 koppie)
- 80 ml kakao ( 1/3 koppie)
- 2 eiers
- 125 ml karringmelk (1/ 2 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn
- 5 ml vanielje ( 1 teelepel )
- 2,5 ml kaneel (1/2 teelepel )
- 5 ml koeksoda ( 1 teelepel )
Voor-verhit jou oond tot 180 ° C ( 360 ° F) .
- Plaas die botter , water en kakao in 'n kastrol en bring tot kookpunt . Verwyder van die hitte af en laat staan eenkant terwyl jy die res van die konkoksie reg kry.
- Plaas suiker, meel, sout , kaneel en koeksoda in 'n groot mengbak .
- Meng karringmelk , eiers en vanielje in 'n aparte mengbak.
- Gooi die kakao mengsel oor die droë bestanddele en meng . Op hierdie punt sal jy nogal 'n droë mengsel hê.
- Voeg die karringmelk mengsel by en meng weer deeglik . Jy moet opeindig met 'n lekker nat beslag.
- Plaas die mengsel in 'n groot oondbak . Jy kan enige vierkantige bak / pan gebruik (ten minste 25 cm x 25 cm of 22 cm x 30 cm).
- Bak vir 30 minute of tot 'n toetspen skoon uitkom as jy hom in die middel van die poeding indruk.
Terwyl jy wag vir die nagereg om te bak, maak jou versiersuiker aan.
Versiersuiker
Maak die versiersuiker terwyl die poeding bak, want jy moet dit oor die poeding gooi sodra dit uit die oond uit kom.Bestandele
- 500 g versiersuiker
- 250 ml kakao ( 1 koppie)
- 125 ml botter of margarien (1/2 koppie of 125 g as jy dit eerder wil weeg )
- 160 ml karringmelk (2/3 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn
Metode
- Smelt die botter in 'n kastrol.
- Voeg die versiersuiker en kakao by en roer goed .
- Voeg die karringmelk by en meng deeglik.
- Sodra jou poeding uit die oond kom, sny dit in 12 stukke. Gebruik 'n getande mes, want die poeding is delikaat en warm en jy sal hom vergruisel met 'n stomp mes. Moet ook nou nie mal gaan en die rofste mes vat wat jy het nie. 'n Mes wat 'n tamatie lekker sal sny is perfek.
- Gooi die warm versiersel dadelik oor. Ek gaan altyd weer oor die "snye" met die mes sodat die versiersuiker lekker in al die gleuwe inloop. Julle, hoe grom my maag nou...
Die poeding is klam en lig en hou glad nie sy vorm goed nie. Dis hoekom dit beter is om dit as 'n poeding as 'n koek te bedien.
Gooi 'n bietjie roomys bo-op en elke Jan Rap en sy maat sal bak-hand staan vir die resep.
Toe, probeer dit . En sê dan vir my hoe gek jy is daaroor!
Dit poeding is baie soet, so as jy nie te veel van soet goed hou nie, dis kleiner porsies op met meer roomys, OF gooi minder van die versiersuiker oor.
http://hoekkoekenvloek.blogspot.co.za/2013/10/ance-se-sjokolade-poeding-resep.html