Tuesday 18 August 2015

STAP-VIR-STAP: Dié eetbare rose is maklik om te maak – en jy het nie eens spesiale toerusting nodig nie




Eetbare roos

Jy benodig
• plastiekversiersel in die kleur van jou keuse
• mielieblom
• koekroller
• klein ronde koekiedrukker (of gebruik iets soos ’n sjerrieglas)
• skoon, klam teedoek

1 Rol van die versiersel baie dun uit op ’n gladde, skoon oppervlak wat met mielieblom bestrooi is. Sny vyf, sewe of nege sirkels uit na gelang van die grootte roos wat jy wil maak. Hou die versiersel bedek met kleefplastiek om te keer dat dit uitdroog.


2 Vat ’n klein stukkie van die orige versiersel en rol dit eers in ’n bolletjie en dan in ’n kegel. Sprinkel mielieblom oor jou hande as die versiersel taai raak.


3 Vou ’n sirkel om die boonste helfte van die kegel. Die punt van die kegel moenie uitsteek nie. As dit nie lekker klou nie, kan jy die sirkel liggies op die klam teedoek druk en dit dan met die klam kant om die kegel plak.


4 Druk die tweede sirkel reg oorkant die eerste een vas en sorg dat jy die eerste een se naat bedek. Druk dit effens hoër as die eerste sirkel vas en vou dit om die kegel. Hou so aan om sirkels vas te plak en sorg elke keer dat dit die vorige sirkel met omtrent ’n derde oorvleuel. Werk van een kant af en in dieselfde rigting.


5 Knyp die orige versiersel aan die onderkant liggies af. Gebruik jou duime en voorvingers om soveel af te knyp soos wat jy wil, maar wees versigtig om nie die buitenste sirkels te veel af te trek nie.


6 Druk elke roosblaar liggies buitentoe indien jy ’n oop roos verkies. As jy wil hê die roos moet plat staan op ’n koek, moet jy die onderkant stomp of skuins afsny met ’n skêr.